Van wingerd tot glas
2006-06-01
VYFTIG jaar nadat daar laas deur ’n Bosman op Wellington wyn gemaak is, herleef die tradisie vandag.
Met die Bosman Family Vineyards Cabernet Sauvignon 2004 is die familie vierkant terug in die kelder.
Vyf dekades lank het die Bosmans hulle aan die verbouing van die wingerdstok gewy en het die plaas as een van die suksesvolste kwekerye van wingerdstokkies gegroei.
Met ’n produksie wat jaarliks 7 miljoen plante oorskry, is dit die grootste van dié soort onderneming in Afrika.
Wynmaak het die familie na aan die hart bly lê en met die aanbreek van die 2004 seisoen, is daar na kommersiële wynmaak teruggekeer.
Die merkwaardige Bosman Family Vineyards Cabernet Sauvignon 2004 is die gevolg, ’n wyn wat van plant tot bottel deur ’n enkele familie vertroetel is.
Die ou wynkelder op die familie-landgoed word nou gerestoureer en sal in 2007 as boetiek kelder opnuut in gebruik geneem word, vyf dekades nadat wyn die laaste keer daar gemaak is.
Die klem sal val op die maak van Cabernet Sauvignon, ’n kultivar wat goed aard in die plaas se mikroklimaat met sy warm dae, koel nagte en gronde vir gebalanseerde wyne.
Die Bosmans bly stap vir stap in beheer van die wynmaakproses. Die plantjies sien in hul eie kwekery die lig, en later kan uithaler druiwe van hul pryswenner-wingerdblokke gepluk word.
Voorheen is dié uitnemende oes vir wyn onder ander etikette gebruik, ook vir die onvergeetlike Wamakersvallei La Cave Cabernet Sauvignon 2001, wat in 2003 op die Internasionale Wyn en Spiritualieë Kompetisie in Londen met die Warren Winiarski trofee vir die wêreld se beste Cabernet bekroon is.
Die Bosman Family Vineyards Cabernet Sauvignon 2004 het agt geslagte se ondervinding agter hom.
Die druiwe kom van die puikste wingerdblokke op die plaas - almal nuwe generasie klone en onderstokke en vol Cabernet-geur.
Die trosse is met die hand geoes en met die hand gesorteer en toe is die wyn met groot sorg handgemaak.
Houtverou-dering is in klein vaatjies van Franse eik voltooi vir ’n ryk, gebalanseerde rooiwyn.
Vars brame, maraschino-kersies en vanielje kenmerk die neus en ryp vrugtegeure sorg vir ’n lewendige palet. Ferm houttanniene sal vir ’n verdere vyf tot ses jaar se bottelveroudering sorg.
Al is die wyn reeds baie drinkbaar, beveel die wynmaker aan dat die jeugdige wyn eers oorgeskink word om die beste na vore te bring.
Oor sy eersteling-wyn sê Petrus Bosman: “Die Bosman Family Vineyards Cabernet Sauvignon 2004 is ’n wyn getrou aan tradisie, maar tegelyk ook een wat van vooruitgang spreek.
“Dis die begin van ’n opwindende nuwe hoofstuk in ons familiegeskiedenis.”
More
News
|