Fietstoer lyk belowend
2006-06-01
TEN spyte van die naweek se gure weer het die eerste Auto Bearings & Seals Fietstoer vir junior en o.16 ryers met groot sukses in die Paarl plaasgevind.
Dit was egter twee Kaapse ryers, Sven Henson (Marcello) en Louis Boonzaaier (City), wat die titels in onderskeidelik die junior en o.16 afdeling ingepalm het.
Die toer het begin met ’n sirkelwedren by die Boland Krieketstadion.
Dié skofte is gewen deur Marius Bester (Kroff Fietse) in die junior afdeling en Clint Hendricks (Rhadsport) in die o.16-groep.
In die heuwelklim wat Saterdagoggend teen die steiltes van die Taalmonument-pad beslis is, het Henson sy staal in die junior afdeling getoon. Hy het die 3,5km roete in agt minute en 55 sekondes afgelê. Bester was tweede met ’n tyd van nege minute, gevolg deur Jacques van Schalkwyk (Marcello) in die derde plek.
In die o.16-afdeling was Louis Boonzaaier baas toe hy die afstand 42 sekondes vinniger kon aflê as sy naaste teenstander, Hendricks.
Avery Arendse van Yorkshire Fietsryklub was in die derde plek. In die laaste skof het die Marcello junior ryers met slim spantaktiek vir Bester aan flarde gery. Dit het daartoe gelei dat Henson en Van Schalkwyk oor die laaste 25km in enorme voorsprong op die res van die bondel opgebou het.
Rèniell Matthysen (Marcello) het in die derde posisie klaargemaak, met Bester uiteindelik vierde.
In die o.16-afdeling het Louis Boonzaaier sy goeie peil van die oggend gehandhaaf toe hy in die naelrit na die eindstreep vir Grant Stuurman (Rhadsport) en Marius September (Yorkshire) geklop het.
Die afdeling se wedren is gekenmerk deur aanvallende fietsry van veral Stuurman, Hendricks, Brandon Christiaans en Aldino Pietersen van die Bellville Fietsryklub. Dié ryers het herhaaldelik probeer om van Boonzaaier ontslae te raak, maar kon hom nie afgeskud kry nie.
Christiaans en Pietersen het in ’n stadium ’n voorsprong van meer as twee minute gehad, maar is oor die laaste 15km deur die bondel ingehaal.
Die organiseerders hoop om in 2007 dié toer later in die jaar aan te bied wanneer die weer weer gunstig is vir fietsry.
More
News
|