Werelddag van gebed
2005-04-14
OP Sondag 15 Mei, Pinkstersondag, nooi Afrika Christene regoor die wêreld om hande te vat in ’n wêrelddag van gebed. Plaaslik gaan Christene van alle denominasies in die Dalstadion, Paarl vergader van 13:00 tot 16:00. Die jaarlikse Kersligbyeenkoms vir mense wat deur MIV/Vigs geraak word, val hiermee saam. Die gebedsdag word deur Transformasie Afrika gereël en het begin op 21 Maart 2001 op Nuweland rugbystadion toe ’n rekord 45 000 Christene vir Kaapstad gebid het. Op 21 Maart 2002 het meer as 300 000 Christene bymekaar gekom om te bid, hierdie keer op agt stadions regoor Suid-Afrika. Op 1 Mei 2003 het die res van Afrika ook betrokke geraak toe miljoene Christene van 28 Afrika lande in gebed verenig het. Op 2 Mei 2004 het al 58 lande in Afrika saam gebid in die grootste gebedsmobilisasie aksie in die geskiedenis van Afrika. Mense se lewens is aangeraak tydens hierdie geleenthede en wonderwerke het plaasgevind in kerke, gemeenskappe en dorpe. Vanjaar sal die projek in drie fases plaasvind: Van 6 tot 15 Mei word daar dag en nag gevas en gebid vir 10 dae, op 15 Mei is die dag van gebed en vanaf 16 Mei is daar “90 Dae van Seën”, ’n 90 dae gemeenskapsuitreik. Mense wat meer inligting wil hê of betrokke wil raak by die reëlings kan Freddy (862-9698 of 082-7000-689), Juanita (872-2421) of Edwin (862-2096) skakel.
More
News
|