Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland Landbou gee HJS ’n hupstoot, Gim wen

Boland Landbou gee HJS ’n hupstoot, Gim wen
 
2006-06-08


DIE Boland Landbouers het hul Saterdag behoorlik geskop nadat hulle 16-14 teen Hoër Jongenskool Paarl vasgeval het.

Die baie gelyke wedstryd wat in die Agter-Paarl gespeel is, kon so maklik in die tuisspan se guns geswaai het.

Die besoekers het eerste bloed geruik toe die skrumskakel, Albertus Gava, ’n strafdoel oorgeklits het.

Boland Landbou slaan egter terug toe die linkervleuel, Jacques Cronjé, in die regterhoek gaan druk het.

Die tuisskare se vreugde was egter van korte duur.

Gava is weer suksesvol met ’n strafdoel om die telling 6-5 te maak.
Die twee pakke voorspelers het mekaar laat harde bene kou in die vaste skrums.

Boland Landbou was op die aanval in HJS se kwartgebied, toe laasgenoemde ’n vaskop haak.

Die besoekers dryf die bal ’n paar meter veld op, maar die bedrewe losvoorspelers van Boland Landbou wen weer die bal terug.

’n Swak aangee langs die agterlyn af gee HJS ’n onderskep-geleentheid en die speler word eers kort voor Boland Landbou se kwartgebied platgetrek.

’n Vinnige breekslag om die klein kant van die losskrum stel die vleuel, Kobus de Kock, in staat om te druk.

Gava se skop is suiwer en dit besorg HJS teen rustyd ’n voorsprong, met die telling 10-5.

In die tweede helfte is sake net met die skopstewels beslis en hoewel Boland Landbou se Pieter Esterhuizen sy span op ’n stadium 14-13 laat voorloop het, het ’n verdere strafdoel deur Gava die tuisspan se lot verseël.

Die plaasklonge kan egter net hulself blameer vir die nederlaag. Sowat vyf minute voor die eindfluitjie het Boland Landbou in die HJS se gebied ’n vinnige bal gekry.

Hoewel daar vier Swarttruie was teenoor die een verdwaalde streeptrui van HJS, het die senter besluit om ’n rolskoppie deur te stuur wat deur ’n Boishaaier opgepik en teruggeskop is.

In die doodsnikke het Landbou weer die bal agterlangs laat loop. Die laaste aangee na die nommer sewe flank het egter agter hom beland en by die lyn uitgespat waarna die eindfluitjie geblaas het.

* Paarl Gimnasium het op sy tuisveld ’n ewe harde stryd gevoer teen Hoërskool Outeniqua van George.

Die Gimmies het egter genoeg gedoen om 13-6 te wen.

Die senter Hanno Swart het die Paarliete se enigste drie gedruk, terwyl die skrumskakel, Dewald Duvenage verdoel het en ook twee strafdoele behaal het.

* Hoërskool Hugenote het Saterdag op oortuigende wyse met HTS Drostdy afgereken toe hulle die span van Worcester 24-0 geklop het.

Hugenote se drie drieë is deur Wessel Coetzee (heelagter), Suan Havenga (stut) en Emile van der Merwe (agsteman) gedruk. Henk de Villiers was suksesvol met aldrie doelskoppe en ’n strafdoel.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za