Newtons skuur deur
2006-06-08
NUWE besems vee skoon. Dit blyk die geval te wees by die Newtons Rugbyklub.
Die klub se eerste span kon Saterdag met slegs sy tweede sege van die seisoen spog.
Dié oorwinning op Newtonpark oor Langebaan blyk die direkte gevolg te wees van die skuiwe wat die nuwe afrigter, Athol Ontong, aangebring het.
Newtons het eerste bloed geruik toe hy reeds vroeg gaan druk het nadat die voorspelers met ’n rolmaalbeweging begin het en die slot, George Siebritz, afgerond het.
’n Strafdoel deur die losskakel, Christo Fransman, het Newtons se voorsprong na 10-0 verleng.
’n Fout deur die Newtons-agterlyn, gun die besoekers die geleentheid om te druk en die telling 10-7 te maak.
Die tuisspan slaan egter onmiddellik terug en agsteman, Hendrik Mars, gaan druk. Die doelskop maak die rustydtelling 17-7.
Vroeg in die tweede helfte het Fransman se skopvoet weer sy span se voorsprong laat groei.
Newtons het toe op sy louere gerus en die besoekers toegelaat om die spel te dikteer.
Langebaan slaan terug met ’n doel om 20-14 binne trefafstand te wees.
In die laaste vyf minute boer Langebaan op Newton se doellyn. Die verdediging knak en die besoekers druk hul derde drie.
Die beslissende doelskop is egter mis en die Newtons-toeskouers slaak ’n sug van verligting met die 20-19 op die telbord wat getuig van die taai stryd.
Newtons speel Saterdag weg teen Saldanhabaai. Reiskoste is R30 en die bus vertrek om 11:00. Navrae: M Petersen 076-776-0702.
More
News
|