Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Roses oor eerste hekkie

Roses oor eerste hekkie
 
2006-06-08


DIE span van Roses United Rugbyklub het Saterdag die eerste hekkie op sy pad na die Fidentia Boland Premierliga titel oorgesteek, toe hy die eerste ronde onoorwonne afgesluit het.

’n Oortuigende sege van 48-6 oor Robertson het die Weltevreders se volmaakte eerste ronde afgerond.

Dié oorwinning verseker dan ook dat Roses reeds kan aanspraak maak op een stuk silwerware in hul trofeëkas aangesien hulle nou met 41 punte bo-aan die punteleer lê en die eerste ronde wenner is.

Wellington lê in die tweede posisie met 31 punte.

In Saterdag se wedstryd op Pelikaan Park het die tuisspan se agtal in die begin eers gesukkel om aan die gang te kom.

Die voorspelers het egter stelselmatig hul rat gevind en hul stempel op die wedstryd begin afdruk.

Dit het die agterlyn heelwat vryheid gegee om met die bal te hardloop en drieë te druk.

Roses het teen rustyd 19-3 voorgeloop danksy drie drieë en twee doelskoppe deur Earl Manie (heelagter).

Dit was egter in die tweede helfte wat die damwal gebreek het.

Die oproep van die plaasvervangers Daniël Roman en Burton Abrahams op onderskeidelik losskakel en stut, het nuwe woema in die agterlyn en onder die voorspelers gesit.

Roses het in dié helfte nog vyf keer agter die doellyn gaan kuier, met die besoekers wat geen antwoord op die blits-aanval gehad het nie.

Die tuisspan se driedrukkers is Sebastian Hilpert (flank), Jonathan Schalkwyk (senter), John-Lee Nortje (2, skrumskakel), Burton Abrahams (stut), Alvin Hugo (2, vleuel) en Alrich Muller (vleuel). Earl Manie was suksesvol met drie doelskoppe terwyl Daniël Roman een drie verdoel het.

Die Roses-klub en sy ondersteuners sien dus met groot afwagting uit na die tweede ronde wat komende Saterdag op Pelikaan Park teen Darling afskop.

In ’n poging om die atmosfeer by die wedstryd selfs meer feestelik te maak, loof die klub Saterdag ’n prys uit aan die mees lojale toeskouer. Toeskouers kan met hul kleredrag of vlae en plakkate in die kleure van Roses vir dié kompetisie in aanmerking kom.

Die klub hou op 1 Julie ’n langarmdans by die Wellington Stadsaal en kaartjies sal Saterdag by die veld te koop wees.

* Wellington Rugbyklub het ook sy eerste ronde op ’n hoë noot afgeskop toe hy op sy tuisveld vir Worcester Villagers 18-12 (7-9) geklop het.

Die wedstryd het egter vir min opwinding gesorg en sal nie onthou word vir sy aanskoulikheid nie.

Wellington ondervind nog probleme met sy agterlyn wat blyk om geen deurdringingsvermoë te hê nie.

’n Pluimpie vir die tuisspan was egter dat die besoekers nie sy doellyn kon oorsteek nie.

Wellington se twee drieë is deur die vleuels, HP van Coller en Phil Victor gedruk.

Clive Samuels was suksesvol met twee doelskoppe en ’n strafdoel.
Die besoekers se punte was danksy drie strafdoele en ’n skepdoel.

Wellington speel Saterdag weg teen Abbotsdale.

* Geen speler wat by die Boland Kavaliers gekontrakteer is, mag Saterdag vir hul klubs speel nie.

Die Fidentia Boland Kavaliers speel Donderdag ’n vriendskaplike wedstryd teen die WP en afrigter, Hawies Fourie, wil nie die risiko loop om enige van sy spelers weens beserings te verloor nie.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za