Taalmuseum vier boekedag met Leipoldt
2005-04-14
DIE Taalmuseum in die Paarl hou op Saterdag 23 April ’n skrywersdag en -ete ter herdenking van Wêreldboekedag.
’n Hoogtepunt op die program is ’n praatjie oor die biografieë van die bekroonde Afrikaanse literatuur-historikus John Kannemeyer.
Hy het al biografieë oor verskeie groot literêre geeste, soos DJ Opperman, Peter Blum, CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt, Uys Krige en Jan Rabie, gepubliseer.
Prof Wium van Zyl, wat gereeld literêre toere saam met prof Kannemeyer aanbied, sal met hom gesels oor hierdie skrywers wat sy pad gekruis het, asook oor sy werkmetodes.
Die praatjie sal fokus op sy werke oor Leipoldt. Die biografie, ‘Leipoldt: ’n Lewensverhaal’, het in 1999 in samehang met ’n bloemlesing Leipoldt-geskrifte, ‘Uit die skatkis van die Slampamperman’, verskyn.
Trevor Emslie, redakteur van Leipoldt’s Food & Wine, wat ook onlangs Leipoldt se ‘Polfyntjies vir die Proe’ heruitgegee het, sal meer vertel oor Leipoldt se kookkuns. Die dag sluit ook ’n Leipoldt-geïnspireerde feesmaal in.
Op die spys- kaart is vars tuis- gebakte brood en patee, ’n hoen- derkerrie-en-rys gereg met blatjang en sambal, en vrugteslaai as nagereg. Wyn, sap, en tee en koffie word bedien.
Die verrigtinge begin om 11:00 en duur tot ongeveer 14:00. Verskeie Kannemeyer-publikasies, asook Leipoldt’s Food & Wine en Polfyntjies vir die proe sal ná afloop van die funksie te koop wees.
Kaartjies is beskikbaar by die museum teen R60 per persoon. Kontak Isabeau Botha by 872-3441 vir meer inligting.
* Unesco se Wêreldboekedag word sedert 1995 jaarliks op 23 April gevier. William Shakespeare is oorlede op 23 April 1616, en omdat hy as een van die grootste figure in wêreldletterkunde beskou word, is dit heel gepas om Wêreldboekedag op hierdie dag te vier.
Die Afrikaanse Taalmuseum is nou ook oop vir besoekers op Saterdae van 09:00 tot 13:00. Toegang is R10 (leerders R2). Indien u die skrywersdag bywoon, is u welkom om die museum vooraf gratis te besoek.
More
News
|