Drakenstein se tariewe `styg te vinnig' - DA
2006-06-15
DRAKENSTEIN is nie ’n wen-gemeenskap nie, en ly onder munisipale tariewe wat jaarliks met meer as inflasie aangepas word.
Dit is die kommentaar van die Demokratiese Alliansie op die munisipale begroting vir 2006/9. Lede van dié party het voorverlede week uitgestap uit die raadsaal as protes, nadat die Speaker net tien minute per politieke party toegestaan het vir kommentaar.
“Dit is ’n reaksionêre begroting gebaseer op die feit dat Drakenstein se ekonomie oor die afgelope aantal jare skaars enige groei getoon het,” sê Koos Louw, leier van die DA in die stadsraad.
“As gevolg van toenemende armoede, werkloosheid en disinvestering moet die “gans” wat die goue eiers lê al hoe meer belas word en juis daarom is hy al hoe minder in staat om sy munisipale pond vleis te gee.
“Ons kan nie jaar op jaar ’n gebied waar geen werklike ekonomiese groei plaasvind, bo inflasie aanslaan nie.
“Dit is onvermydelik dat Drakenstein al hoe verder agter raak by ander munisipaliteite, dat disinvestering al hoe vinniger plaasvind, dat werkloosheid en armoede hand oor hand toeneem en dat mense uit hul eiendom of ondernemings belas word.”
Raadslid Louw het verwys na die Geintegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) waarop die begroting berus, en gesê gemeenskapsprioriteite wat hiervolgens bepaal is, klop nie met die prioriteitslys soos deur die burgemeesterskomitee saamgestel nie.
“Die DA is derhalwe nie by magte om die huidige begroting ongekwalifiseerd te aanvaar nie.”
Maar die DA het wel sekere aspekte van die begroting geloof: “Ons is baie gelukkig met die aandag wat aan gebrekkige munisipale infrastruktuur gegee word, asook die gemeenskapsentrum wat in Paarl-Oos gebou gaan word.
“Die voorgestelde persentasieverhoging in eiendomsbelasting vir die komende jaar dra uiteraard ook die DA se ongekwalifiseerde goedkeuring weg. Maar ons is bekommerd oor die effek wat die verhoogde eiendomswaardasies op hierdie syfer kan hê.”
Ander probleme wat die DA het met die begroting:
* Belasting op plaaseiendomme wat geen dienste in ruil van die munisipaliteit ontvang nie; * Oorhoofse bedryfskostes wat steeds nie in bedwang gebring kan word nie; * Begrotingsposte wat van die een jaar na die volgende oorgedra word; * Die gebrek aan betrokkenheid van die grootste belastingpligtiges in Drakenstein by die opstel en finansiering van die begroting; * Die effek wat verhoogde watertariewe op ’n gemeenskap soos Saron kan hê in die lig van die Saron-waterdispuut; * Die huidige belastingvoorstelle wat uitgaan van die veronderstelling dat inflasie in die komende drie jaar gaan styg tot bo 7%.
“Maar die grootste leemtes in die huidige begrotingsvoorstelle is die totale gebrek aan ’n visie, aan ’n strategie en aan kapasiteit om van Drakenstein ’n wen-gemeenskap te maak.
“Drakenstein het geen toekoms as ’n verbruikersekonomie nie.
Voordat die klem van ’n begroting nie verskuif na insentiewe om van Drakenstein ’n gesogte vervaardigingsekonomie te maak nie, gaan Drakenstein se huidige behuisings-, armoede- en werkloosheidsprobleme net verder toeneem,” het Louw afgesluit.
* Die sakegemeenskap ervaar ’n afname in, en ’n gebrek aan dienslewering, sê Max van der Wath (Wellington Sakekamer). "Ons voel verder dat die Raad se beleid ten opsigte van nywerheidsgrond struikelblokke plaas in die pad van ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en ekonomiese groei.
“Geen toegewings word gedoen om besighede in die dorp te hou nie.” Sakelui is ook ongelukkig oor die gebrek aan terugvoering op navrae: “Slegs sekere amptenare doen die moeite om aan navrae gehoor te gee.
“Daar is ’n gebrek aan belangstelling uit die oord van die politieke heersers van die dag, by name die burgemeesterskomitee.”
Vir die sakegemeenskap lyk dit asof die persentasie verhoging in tariewe slegs die slegte skuld en ander wanbetalings dek en dat daar in werklikheid dus geen groei in dienslewering kan wees nie.
“Die gevolg is dat die Munisipaliteit dus alreeds die agteruitgangsfase betree het.”
Die gebrek aan skuldinvordering word as kommerwekkend beskryf, asook die ruim begroting vir toekomstige skuldafskrywing.
“Lenings moet aangegaan word om die tekort op debiteure aan te vul.”
* The DA has objected to the steep increase in municipal tariffs.
More
News
|