Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Oorlog onder insleepdienste

Oorlog onder insleepdienste
 
2006-06-15


INSLEEPDIENSTE in die Paarl het oorlog verklaar teen kollegas wat hul “naam in oneer bring, die publiek mislei en ander inslepers intimideer”.

Die onmin is Sondagaand op die spits gedryf met die aanranding van ’n voertuigbestuurder van Paarlberg Towing, na bewering deur drie lede van Boland Towing.

Ronald Kuhn van Paarlberg Towing is Sondagaand deur die Franschhoek polisie ontbied om ’n motor wat in ’n botsing betrokke was, weg te sleep.

Die motoreienaar, Izak de Bruyn van Wemmershoek Saagmeule, het beheer oor sy wit Honda Ballade verloor en die pad verlaat. Hy is kort daarna van beweerde dronkbestuur aangekla.

“Toe ek op die toneel kom, was een van Boland Towing se voertuie reeds daar,” het Kuhn later gesê.

“Hy het hom vererg vir die omstanders wat gegil het ‘Moenie hom laat sleep nie; dit kos jou R8000 om die kar weer te kry’.

“Die polisie op die toneel het bevestiging van die eienaar en offisiere by die stasie gekry en gesê ek moet ry met die voertuig.”

Kuhn vertel hy was om 21:30 byna in die Paarl toe drie van Boland Towing se insleepvoertuie hom omsingel en van die Paryspad gedwing het.

Sy voertuig se sleutels is uit die aansitter geruk. Die syruite is met die agterkant van ’n sambok en ’n stuk hout uitgeslaan, die ligte is gebreek en die voorruit is gekraak.

Die onklaar Honda waarmee hy op pad was na hul stoorplek, is afgehaak, aan een van Boland Towing se voertuie gekoppel, en ’n ent weggesleep.

Paarlberg Towing se eienaar, Niel Steyl, beaam sy werknemer se verklaring.

“Toe Ronald my op die radio roep dat hy in die moeilikheid is met Boland Towing, het ek dadelik die polisie geskakel en hom tegemoet gery.

“Ons het afgekom op Jacques Terblanche (eienaar van Boland Towing) en sy werkers Gotty en Steven, om Ronald en ons bakkie.

“Ek weet nie wat nog sou gebeur het as die polisie nie toe daar aangekom het nie.”

Boland Towing is deur die polisie gedwing om die voertuig af te haak. Paarlberg Towing se sleepkettings is later in die veld opgetel. Die motorsleutels is steeds weg.

Aanklagte van aanranding, saakbeskadiging, motordiefstal en crimen injuria is ná die voorval deur Paarlberg Towing by die polisie aanhangig gemaak.

“Ons word gedreig, van die botsingstoneel geslaan en die onklaar voertuie oorgeneem,” het Steyl gesê.

“Kliënte word ook op ongelukstonele geïntimideer. Ons almal kry ’n slegte naam deur die optrede van enkele insleepdienste.”

* Die ondersoek na ’n beweerde dronkbestuurklag teen Jacques Terblanche verlede maand op Wellington, is pas afgehandel.

Hy is om 02:00 op 5 Mei deur polisiebeamptes deur Wellington se strate gejaag, voordat hy agter die stuur aangekeer is.

Twee polisiebeamptes is na bewering tydens die arrestasie aangerand. Klagtes van aanranding en opsetlike saakbeskadiging is by dié van dronkbestuur gevoeg.

Soos die gebruik tans is met beweerde dronkbestuuraanklagte, is die saak voorlopig teruggetrek totdat die uitslag van die bloed-alkoholtoets beskikbaar is. Terblanche kan gedagvaar word om op 29 Junie in die landdroshof te verskyn.

Volgens staatsaanklaer Jacomina Swarts appelleer Terblanche tans teen twee skuldigbevindings in die Paarl landdroshof vir “die verwydering van ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming”.

In ’n ander geding probeer die versekeraar van Paarlse motoreienaar Leon Andrews regskoste van Terblanche verhaal, nadat die motor eers ná ’n hofbevel terugbesorg is.

“My motor is onder valse voorwendsels weggesleep,” het Andrews gesê.

* Members of Boland Towing face charges of assault, vehicle theft, malicious damage to property and crimen injuria after a roadside incident on Sunday night.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za