Misdaadgolf word net groter en groter
2006-06-15
NA aanleiding van die berig “Meer en meer gesteel” op bl 5 van Paarl Post op 8 Junie lyk dit of die misdaadgolf net al hoe groter en groter word, ongeag die miljoene wat die regering inpomp om dit te probeer hokslaan.
Dit lyk ook of ons land die teiken word van al meer misdaadsindikate. As dit nie dagga is wat ingesmokkel word nie dan is dit onwettige drank.
Nou lyk dit weer asof motordiewe verjaar.
Die arme Francois Lourens het ook nou ’n motordiefstalstatistiek geword.
Diewe het geen skaamte, respek of soos dit lyk, vrees vir die gereg nie. As die dief eers sy besluit geneem het om te steel, doen hy dit ongeag die gevolge van sy daad teenoor sy medemens.
Die gedagte van hoe sy slagoffer moes opoffer aan kosbare tyd, swaarverdiende geld, sware moeite en diepe opoffering, om sy besittings te bekom, maak by hom glad nie saak nie.
Sy gewete het lankal afgestomp sodat hy siende-blind geword het vir die Skepper se opdrag om nie te steel nie. Solank hy net sy eie selfsugtige, maklike bekombare buit kan kry.
’n Inbreker is ’n potensiële moordenaar, want betrap jy hom op heterdaad en word hy vasgekeer, gaan hy alles in sy vermoë doen om los te kom.
Dis hieroor dat die antwoord van ’n sogenaamde polisiewoordvoerder aan die einde van die berig, ’n wrang smaak in die mond laat.
Hoe klink “diefstalle word dikwels gepleeg weens die nalatigheid van huis- en motoreienaars” vir ’n slagoffer van diefstal?
Omtrent elke huis lyk soos ’n tronk van die diefwering soos wat huiseienaars hulself, hul besittings en geliefdes moet beskerm.
Diefalarms en waarskuwingsborde daarvan, pryk teen omtrent elke huis en besigheid.
Ten duurste word aan versekering en sekuriteitsdienste betaal. Die mees gevaarlike honde tref jy in omtrent elke woonerf aan.
Die duurste en mees gesofistikeerde motoralarms en immobiliseerders word in motors aangebring. Dit alles om ons wetsgehoorsame burgers te beskerm.
Helaas, waag jy dit om die betrapte dief in jou woede by te kom, of dalk uit selfverdediging te skiet, wag daar aanklagte van aanranding en poging tot moord, deur die dief gelę!
Van die wetsgehoorsame burger word nou ’n misdadiger gemaak en die dief of skuldige word beskerm.
Die polisie moet eerder die gemeenskap beskerm as om die blaam van sulke laakbare optrede soos diefstal voor die voete van die vele slagoffers te lę.
Anti-diefstal
More
News
|