Paarl Gim verwoes SACS
2006-06-15
DIE o.19A rugbyspan van Paarl Gimnasium het Saterdag min moeite ondervind om SACS 47-12 (14-7) te klop.
Gim se groot uitblinker was die senter, Johan Sadie, wat ’n driekuns drieë behaal het.
Sadie het voortdurend in goeie aanvalslyne gehardloop en met sy bedrieglike aftrappe die verdediging telkens platvoet betrap.
Gim se voorspelers het die spel oorheers, en met goeie dryfwerk die tuisspan op die agtervoet gedruk.
Die wedstryd is gekenmerk deur aanskoulike hardlooprugby waarby selfs die swaarder voorspelers betrokke was.
Die Paarliete se ander vier drieë is deur André Kemp, Jacobus Rossouw, Jean Rossouw en Bertus O’Callaghan gedruk.
Gim speel vandag in die Paarl teen Hoërskool Brackenfell.
* Die eerstespan van Hoër Jongenskool Paarl was Vrydagaand ook veels te sterk vir Rondebosch.
Die Paarliete het die Kaapse span 24-0 (14-0) op Nuweland geklop in die voorwedstryd vir die Corné Krige bonus-wedstryd.
HJS het vier drieë gedruk aan die hand van Alberto Gava (skrumskakel), Kobus de Kock (vleuel), Marko Kershoff (losskakel) en Marko Kriek (agsteman).
Gava was ook in die kol met twee doelskoppe en ’n strafdoel. HJS speel vanmiddag 16:00 teen Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.
* Dinge het maar geknor vir die Hoër Landbouskool Boland op Worcester.
Die span van die Agter-Paarl het nietemin ’n 14-11 (11-3) sege oor HTS Drostdy behaal.
Albei spanne kon slegs een drie druk.
Vir die besoekers het Marnitz Jacobs in die doelgebied gaan kuier, terwyl Ockert Erasmus (2) en Pieter Esterhuyse strafdoele oorgeskop het.
More
News
|