Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


1976: onweerswolke pak saam

1976: onweerswolke pak saam
 
2006-06-15

Michael le Cordeur

DIS môre 30 jaar gelede dat een van die mees betekenisvolle gebeurtenisse in ons land se geskiedenis plaasgevind het: toe die jeug van Soweto in opstand gekom het teen die gedwonge onderwys in Afrikaans.

Sedertdien sou hierdie dag op 16 Junie as ‘n nasionale vakansiedag oftewel Jeugdag herdenk word.

Ek was destyds in matriek en dink terug aan wat daardie tyd gebeur het en hoe dit die landskap van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onherroepelik sou verander - ter herdenking aan almal wat des-tyds die pyn en vernedering van apartheid moes verduur.

Dit is ‘n poging om erkenning te gee aan almal wat help skryf het aan die storie van die nuwe Suid-Afrika, maar wie se name in geen geskiedenisboek opgeteken sal word nie.

Ek onthou daardie verskriklike dag soos gister: daardie grou wintersdag, 16 Junie 1976. Ek was maar net 16 jaar oud in matriek. Ons was in die middel van die Junie-matriekeksamen en sou Biologie skryf.

Onweerswolke het reeds ‘n paar dae tevore begin saampak: in meer as een opsig. Daar was allerhande praatjies dat ons liefs nie vir die eksamen moes opdaag nie; dat iets verskrikliks gaan gebeur indien ons wel sou kom eksamen skryf.

Saans was dit onheilspellend stil. Nie ‘n enkele leerder was in sig nie. Hulle was òf besig met geheime vergaderings, òf besig om skelmpies te leer vir die matriekeksamen, òf besig om êrens vir die polisie weg te kruip.

Die polisie het snags die strate gepatrolleer; en wee jou as jy ná donker op straat was: jy sou na alle waarskynlikheid ‘n nag in ‘n vreemde sel deurbring, terwyl jou ouers en naasbestaandes rasend van bekommernis was.

Die volgende oggend is jy êrens buite die dorp afgelaai (natuurlik met die nodige letsels as aandenkings) en aan jou eie genade oorgelaat.
Dit was ‘n stryd om die nagte om te kry.

Almal het hulle bekommer oor die eksamen, ander het gewonder wanneer die polisie aan hulle deur gaan kom klop om gearresteer te word. Ek het probeer leer. Maar jou kop was op ‘n ander plek...

Daardie dag het die skoolhoof, mnr Willie Arendse (of Strom soos ons hom gedoop het na analogie van die vulkaan Stromboli wat so onverwags kon uitbars) besluit die eksamen sou die oggend met die intrapslag afgelê word. So asof hy geweet het wat sou kom.

Ons is almal die klas binne. Ek, en Bronie en Mirror, Jose, Anne-Marie en Bridgette, Marius en Martin, Davy, Peter en Voëltjie, Leandé, Donie, en Kieste, Anthony, Stephen, Chico, Nappies en nog ander.

Die vraestelle is uitgedeel. ‘n Paar was nie in die klas nie. Ek het senuweeagtig rondgekyk wanneer hulle inkom. Hulle het nooit opgedaag nie.

Ons het begin skryf. Jy kon die spanning met ‘n mes sny. Meteens is die onheilspellende stilte versteur. ‘n Helse slag het afgegaan. Gille en uitroepe van angs het gevolg.

Die warboel wat daarna gevolg het, is effens vaag, en nie heeltemal duidelik vir my nie. Kinders het by die klasse uitgestorm.

Buite is ons in ons vier spore tot stilstand geskok toe ‘n see van vlamme ons begroet het. Niemand het mooi geweet wat aangaan nie.

Instinktief het ons na die hoof se kantoor gehardloop, waar ‘n nog groter skok op ons gewag het. Die hele administrasiegebou was in ligte laaie (nou moet ek byvoeg dat die grootste gedeelte van Hoërskool Bergrivier destyds uit tydelike plankstrukture bestaan het).

Die standerd ses en sewe klasse wat ook van plankies gemaak was, (ons het dit sommer die duiwehokkies genoem) het soos tamatiekissies gebrand en êrens het ‘n sirene gelui.

Polisievoertuie en swaar gewapende polisiemanne was oral te sien. Uiteindelik het ek beheer van myself gekry en instinktief na my jonger broer en suster gesoek. Toe ek hulle gevind het, het ons so vinnig as wat ons kon, huis toe gehardloop.

Die grootmense was reeds almal uit die werk en by die huis. Sommiges was reeds op pad skool toe. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei. Die skool is aan die brand.

Die res van die dag het ons vasgenael by die radio gesit (dit was nog voor die dae van televisie). Die een nuusberig na die ander het dieselfde boodskap uitbasuin. Skole is ontwrig. Skole brand. Die land is aan die brand. Hector Petersen is doodgeskiet...

Die volgende dag is ons doodbang en onseker skool toe. Ouers het saamgestap. Die gesig was iets hartseer om te aanskou. Die grootste gedeelte van die skool het in puin gelê.

Ons het gehoor dat vier van ons maats gearresteer was (ek sal liefs nie hulle name noem nie) maar hulle sou daarna onderwerp word aan ‘n senutergende hofsaak; en uiteindelik moes hulle vanaf 1976 tot 1994 elke Kersfees by die polisiekantoor aanmeld).

Eers met die aanbreek van die “nuwe” Suid-Afrika 18 jaar later is hierdie praktyk gestop.

Nodeloos om te sê dat daar niks van die eksamen gekom het nie. Die skool is summier gesluit, en sou eers vyf weke later weer heropen.

Sedertdien het die studente elke 16de Junie hul eie feesvieringe gehou, die talle vermaninge ten spyt.

Uiteindelik het die skoolhoofde die eksamen so gereël dat die leerlinge die eksamen voor 16 Junie afgehandel het - die kinders het effektief hul eie vakansiedag geskep.

Met die koms van die demokrasie in 1994 sou 16 Junie as Nasionale Jeugdag gevier word - tot vandag.

Dertig jaar later wil ek die gebeure van destyds in verband bring met twee debatte wat tans in die nuus is: die debat om Afrikaans en die debat om bruin leierskap.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za