Jeug wil vreedsame toekoms bou
2006-06-15
Lise Beyers
VANJAAR se Jeugdag-viering op Vrydag 16 Junie sal die 30ste jaar wees sedert die noodlottige dag in 1976 toe die jeug in opstand gekom het vir hul regte.
Op dié dag het meer as 20 000 leerders in Soweto begin protesteer teen die swak onderwysstelsel vir nie-blankes, asook hul onderrig wat in Afrikaans op hulle afgedwing is.
Dit het in ’n oorlog ontaard tussen leerders en polisie. Die protes-aksie het landwyd versprei en in die daarop volgende paar weke is meer as 700 mense, talle leerders ingesluit, dood in die geweld wat losgebars het.
Vandag, dertig jaar later, word hulde gebring aan die jeug wat hul lewens neergelê het in die stryd vir vryheid.
Maar waar staan die jeug vandag? Lê daar ’n blink toekoms voor, of is dit tyd om sakke te pak en na groener weivelde te soek?
“Die jeug is beslis baie beter af as toe ons kinders was. "My eie kind is ’n voorbeeld hiervan, wat uitblink op skool en ook haar junior Springbokkleure verwerf het in veerpyle,” sê Martie Alexander van Mountain View oor die stand van die jeug.
“Wat in 1976 gebeur het, sal altyd by ons bly en die jeug moet dit onthou en die geleenthede wat hulle vandag het benut.”
Vir David Februarie van Paarl-Oos is dit ’n dag wat na aan sy hart lê, want op 16 Junie 1976 het hy 16 jaar oud geword.
“As 16-jarige was ek ook deel van die opstand en daar was groot onluste en baie onskuldige mense, insluitend vriende van my, het gesterf.
“Dit is goed om die dag te herdenk, maar ek voel dat die stryd wat ek teen Apartheid gevoer het vrugteloos was, want ek is een van die duisende mense in die land wat nie werk kan kry nie.
“Ek het in 1994 vir Mandela gestem, maar daarna nie weer nie, want die politici kom nie hul beloftes na nie.”
Christelene Jordaan, ’n graad 12-leerder aan Charleston Hill Sekondêr is baie positief oor die toekoms.
“Die opstand van die jeug destyds het vir die jeug van vandag ’n weg gebaan om ’n goeie toekoms te hê. Ons is die grootmense van môre en ek is seker dat ons ’n sukses kan maak van enigiets wat ons wil doen.”
Marta-Marie le Grange, hoofmeisie van Hoër Meisieskool Paarl, sê dat dinge baie verbeter het vir die jeug. “Nie net was die jeug van nie-blanke gebiede onderdruk nie, maar die jeug in die geheel.
“As dit nie vir die gebeure van 16 Junie 1976 was nie, sou Apartheid steeds bestaan het, en ons almal sou steeds onderdruk wees.”
Nog ’n graad 12-leerder, Mark Horne van Charleston Hill vertel hoeveel die 1976-opstande in sy lewe beteken. “Al die jong mense het daardie dag vir ons opgestaan, en dit het gelei tot ’n ‘brighter future’ vir ons.
“Ons moet seker maak dat Hector Petersen en al die ander jong mense nie verniet gesterf het nie,” sê Mark wat volgende jaar by Elsenburg gaan studeer om ’n plaasbestuurder te word.
Dylan Jeffries, ’n graad 9-leerder van Boishaai, sê dat al die jeug van vandag saam moet staan om te sorg dat die jeug wat in 1976 hul lewens neergelê het, nie verniet was nie.
“Ons moet vir die wêreld bewys dat die reënboog-jeug van Suid-Afrika ’n vooruitstrewende, vreedsame toekoms gaan bou vir al die mense van dié land.”
“Slegs dan sal ons ware vryheid hê.”
More
News
|