Paarl steeds onoowonne
2006-06-15
DIE eerste span van die Paarl Rugbyklub het Saterdag sy onoorwonne veldtog voortgesit toe hy vir Strand 32-6 geklop het.
Die besoekers het sommer vroeg in die eerste helfte al sake begin oorheers.
Hoewel die twee pakke voorspelers goed teen mekaar opgeweeg het, was die Paarl-manne net meer bedrewe in vaste fasette.
Jaco du Plessis (flank) en die slot Strafford Geldenhuys het albei ’n baie goeie wedstryd gespeel.
Die groot wanbalans was egter tussen die twee agterlyne, met die Paarl wat hier eenvoudig te veel skietgoed gehad het.
Brian Cramer het op vleuel ’n bielie van ’n wedstryd gehad en twee drieë gedruk.
Heelagter Marco Martin, Riaan Ehlers (haker) en Lionel Hugo (agsteman) het ook agter die doellyn gaan kuier om so die bonuspunt vir Paarl te verseker.
Jacques Hendriks was in die kol met twee doelskoppe en ’n strafdoel. Paarl II en III het 18-14 en 27-0 verloor.
Paarl se o.20-span het teen die huidige ligavoorloper, Collegians, 7-0 verloor.
Saterdag speel Paarl tuis teen Strand United wat ook nog die seisoen onoorwonne is. Dit beloof om ’n klipharde wedstryd te wees wat sal bepaal wie die voorlopers is ná die eerste ronde van die WP se Eerste Liga.
More
News
|