Roses glimlag na soveelste sege
2006-06-15
DIS steeds blomtyd in die kamp van Roses United Rugbyklub nadat hulle Saterdag die tweede ronde van die Boland Premierliga met ’n 38-7 (31-0) sege oor Darling afgeskop het.
Roses het binne die eerste tien minute sy eerste van vyf drieë gedruk, nadat die senter, Alrich Muller, oorgeduik het vir ’n pragdrie.
Die drie was die uiteinde van ’n mooi stukkie samespel tussen voor- en agterspelers en goeie hantering deur veral die senterpaar.
Kort daarna was dit die beurt van die ander senter, Jonathan Schalkwyk, en hy gaan kuier agter die doellyn.
Die tuisspan se voorspelers het goed gelyk in byna al die fasette van die spel, maar gesukkel om momentum te kry in die vaste skrums. Die agterlyn het nietemin heelwat bal gekry om mee te speel.
Roses se derde drie is deur Earl Manie (heelagter) gedruk nadat vinnige tweede fase balbesit verkry is.
’n Bykomende drie deur Manie asook ’n verdere vyfpunter deur die vleuel, Alrich Muller, het Roses teen rustyd ’n bonuspunt en ’n voorsprong van 31-0 besorg.
Die tweede helfte het nie in dieselfde drieëfees ontaard nie en Roses kon net ’n verdere doel by sy totaal voeg.
Schalkwyk het laat in die tweede helfte sy tweede drie onder die pale gedruk.
Darling se spel het op sy beurt opgetel, maar hardnekkige verdediging deur die tuisspan het verhoed dat die besoekers meer as een drie druk.
Die Weltevrede-span se ander punte is deur Earl Manie (twee doelskoppe) en Danie Roman (een doelskop) aangeteken.
Roses behou dus steeds sy onoorwonne status en het weer gewys dat hy beslis moeilik geklop gaan word.
Roses speel Saterdag tuis teen Rawsonville. ’n Groot skare word verwag en die Roses ondersteuners word weer aangemoedig om hul span se kleure aan te trek. Die hoofwedstryd skop om 16:00 af.
More
News
|