Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Albions skraap deur teen Peoples

Albions skraap deur teen Peoples
 
2006-06-15


DIT was op ’n nerf na, of Albions Rugbyklub het Saterdag in die hek geduik teen Young Peoples.

Albions se rustydvoorsprong van 17-5 was egter net genoeg om die wedstryd uiteindelik 17-16 te wen.

Die Tiere het in die tweede helfte met ’n baie goeie terugvegpoging begin toe losskakel Dwayne Cornelissen binne die eerste minute ’n skepdoel behaal.

Peoples se toeskouers was kort daarna weer op hul voete toe die regtervleuel, Jacques Lategan, in die regterhoek gaan druk.

’n Strafdoel deur Cornelissen het Peoples binne ’n punt se bereik van Albions geplaas. Laasgenoemde se verdediging het egter gehou.
Peoples het ewe hardnekkig verdedig en vir die orige 20 minute van die wedstryd is geen verdere punte aangeteken nie.

Albions se naelskraapse sege was danksy die goeie vertoning wat hulle in die eerste helfte gelewer het.

Die vaste vyf het goed saamgespeel en die basis geskep vanwaar die agterspelers vinnige aanvalle kon loods.

Die speler wat veral hierop gekapitaliseer het, is Gamian Poggenpoel. Dié binnesenter het onder die pale gaan druk ná ’n mooi breekslag in die middeveld - ’n lopie van sowat 30m.

Die skrumskakel, Dominic Daniels, was suksesvol met die doelskop.
’n Rukkie later was die soeklig weer op Poggenpoel toe hy ’n slim rolskoppie van Elrico Pietersen (linkervleuel) opvolg en weer onder die pale oorval vir sy tweede drie.

Daniels se skop was weer in die kol om Albions 17-0 te laat voorloop.
Net voor rustyd het die Tiere hul rekening oopgemaak toe die binnesenter, Kurt Martin, in die doelgebied gaan kuier het.

Albions se pak het in die tweede helfte swaar gekry, met van sy ysters wat deur ligter spelers vervang is.

Die flank, Morné Goetham, moes ook met ’n draagbaar van die veld gedra word nadat hy in die eerste minuut van die tweede helfte ’n harde stamp aan die kop gekry het.

Sy plaasvervanger, Roderick Allies, het egter ’n goeie wedstryd gespeel.

Albions se ander losvoorspelers, Yulin Claasen en Jenovan Cornelissen, het ook die oog gevang met hul goeie spel in die loste fasette.

In die agterlyn verdien die verdediging van Poggenpoel en sy sentermaat, Lincoln du Preez, spesiale vermelding.

Peoples II en III het hul wedstryde 18-9 en 16-12 gewen.
Albions speel Saterdag op Daljosafat Stadion se A-veld teen Noordelikes.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za