Rugbyklubs ding mee vir sewes-titel
2006-06-22
DIE 16de jaarlikse sewestoernooi van Young Peoples Rugbyklub word môreaand op Daljosafat Stadion beslis. Agt spanne van Paarl se voorste klubs asook vier skolespanne sal sake op die rugbyveld uitspook. Die eerste wedstryd skop om 18:00 af wanneer die hoërskoolspanne van Paulus Joubert en Noorder-Paarl mekaar pak. Om 18:20 is dit Klein Nederburg en Charleston Hill se beurt. Die wenners van die twee wedstryde sal later die aand in die eindstryd teen mekaar te staan kom. Die hoofkompetisie skop om 19:00 af wanneer Violets en Vineyards mekaar pak. Om 19:20 pak die twee oudste klubs in die Paarl, Young Standards en Young Peoples, mekaar in wat beloof om ’n riller van ’n wedstryd te wees. Standards was nog nooit ’n maklike teenstander nie en die Tiere sal hul keer moet ken. Die verdedigende kampioen, Albions, begin om 19:40 met sy aanslag teen Young Gardens. Hoewel Albions die gunsteling is, het Gardens in die verlede gewys dat hy nie vir groot name en reputasies skrik nie. Die spanne van Paarl Rangers en Laer Paarl draf om 20:00 op. Die beker- en plaateindstryde word omstreeks 22:00 gespeel. Toegang is R5 vir volwassenes en voertuie (R3 vir kinders jonger as 16.)
More
News
|