Hou 'n `Koppie' vir Kansa
2005-04-21
HONDERDE teepartytjies sal weer vanaf Junie dwarsdeur die land gehou word en die opbrengste aan Kansa (Kankervereniging van Suid-Afrika) geskenk word.
Vrywilligers, klubs, stokvels, sportspanne, sakeondernemings en enigiemand wat ’n verskil wil maak, word aangemoedig om ’n Koppie vir Kansa te hou om bewustheid te verhoog en geld in te samel vir dié organisasie se gemeenskapsopleiding- en gesondheidsprogramme.
Met die ondersteuning van Shoprite Checkers en Dilmah Tee sê Kansa-fondsinsamelaar Jaqui Basson dat hulle van plan is om vanjaar meer “Koppies” as ooit tevore te hou.
“Dis ’n prettige manier om mense bymekaar te bring vir ’n koppie tee, koffie, warm sjokolade of enige ander drankie van hulle keuse en terselfdertyd miljoene Suid-Afrikaners te ondersteun wat deur kanker geraak word,” meen sy. “Elke Shoprite Checkers-winkel in die land sal ’n Koppie vir Kansa aanbied,” het sy bygevoeg.
Elke geregistreerde gasvrou of gasheer sal ’n lêer ontvang met ’n plakkaat, pamflette, registrasievorms, resepte en ’n insamelingskoevert.
Kansa moedig ook alle Suid-Afrikaners aan om hulle risiko om kanker te kry te verminder met gesonde leefstylkeuses.
Eet ’n verskeidenheid vet-arm, veselryke kos wat groente en vrugte insluit.
Oefen gereeld, moenie rook nie, wees SonSlim en gebruik min of geen alkohol. Doen ook gereeld selfondersoeke en laat mediese toetse doen.
Om as ’n Koppie vir Kansa-gasvrou of -heer te registreer, skakel Elsa Dauth by 873-3425 of besoek www.cansa.org.za vir meer inligting.
More
News
|