Baba vat kortpad
2006-06-22
HAAR naam moes eintlik Jetta gewees het, maar ouma Mercia wou niks weet nie. Die dogtertjie wat Sondag in die Paarl op die agtersitplek van haar oom Deon Robertson se Jetta gebore is, heet Miahaylen.
Klein Miahaylen het heel Saterdagnag gedreig om die wêreld te groet, maar haar ma wou dit nie toelaat nie.
“Die pyne het gekom, maar ek kon nie haar pa in die donker in Lantana uitstuur om ’n ryding hospitaal toe te kry nie,” het Sandy Finnies gesê.
Met eerste lig, toe die buurt se gevaar minder was, is Hilton de Vries uit om vervoer te soek.
“Toe hulle my vra om Sandy in Cornellissenstraat te gaan haal om hospitaal toe te vat, het ek nie geweet waarvoor nie,” het Deon later vertel.
“Maar toe sy uit die huis uitkom, toe weet ek die tyd is min.
“So sit ek agter die stuur en sy en haar niggie op die agtersitplek.
“Ek kies toe sommer kortpad oor die landjie tussen Evans en Harperstraat en met die eerste skud skree die niggie die kind se koppie kom.
“Ek het getoet dat die mense padgee. En so van voor af het ek die bevalling gedoen - nes ’n mens op televisie sien.
“Hou asem op. Druk. So het ek dit gedoen met Drakensteinweg langs. By Centre Point was die hele baba daar.”
By die hospitaal het verpleegpersoneel die naelstring in die motor geknip en die baba haastig na ’n broeikas gedra.
Sandy is met ’n rolstoel ingestoot en met die nageboorte bygestaan.
Die volgende dag is die ma en haar gesonde 2,67kg dogter ontslaan.
Deon is motorbestuurder van beroep. Dis nie sy eerste bevalling wat hy van agter die stuur behartig nie.
Jare gelede, toe nog bestuurder by ’n tekstielmaatskappy, moes hy ook al ’n mamma in die werk se kombi deur ’n geboorte praat.
“Ek kan nie onthou wat my eerste baba se naam was nie, maar hulle moes die laaste een eintlik Jetta genoem het,” het hy trots gesê.
* A Paarl East motorist talked a mother-to-be through the delivery of her baby daughter on the back seat of his car.
More
News
|