Paul Roos net te sterk vir HJS
2006-06-22
DIE eerste span van Paul Roos Gimnasium was Donderdag net te sterk vir hul eweknie van die Paarl, HJS.
Paul Roos het dié taai stryd op Stellenbosch 10-6 gewen.
Hoewel die Paarliete se voorhoede alle fasette van die spel oorheers het, kon HJS nie genoegsaam afrond om punte op die bord te kry nie.
Uiteindelik was dit die groter slaankrag van die tuisspan se agterlyn wat vir hom die knoop deurgehak het.
HJS se twee strafdoele is deur die skrumskakel, Alberto Gava, oorgesit.
Paul Roos se drie is deur die vleuel, Jason Volschenk, gedruk, terwyl die losskakel, Coenie van Wyk, met die doelskop en ’n strafdoel geslaag het.
* In die Paarl het ’n slagting hom Donderdag afgespeel toe Paarl Gimnasium vir Brackenfell 85-0 verwoes het.
Die syfer 13 was dié dag baie ongelukkig vir die besoekers, aangesien dit die hoeveelheid drieë is wat die Gimmies gedruk het.
Bykans die hele Gim-span het kans gekry om te druk, met slegs die losskakel, André Kemp, wat twee keer in die doelgebied gaan kuier het.
Die skrumskakel, Dewaldt Duvenage, het nie alleen tien van die doelskoppe oorgeklits nie, maar self ook oor die doellyn geduik om sy puntetotaal vir die wedstryd op 25 te staan te bring.
Gim se ander drieë is deur Shaun Rheeder (agsteman), Ferney Kitshoff, Jacques Meyer (albei vleuels), Johan Sadie, Hano Swart (senters), Bertus O’Callaghan (haker), Daniel Slabber, Jacobus Rossouw (slotte), Jéan Rossouw (stut), Tertius Daniller (flank) en André Kemp (losskakel, 2) gedruk.
More
News
|