Publiek, ontwikkelaars gesels oor Levendal-projek
2006-06-22
DIE ontwikkelaars van die beoogde Levendal-projek in Simondium het onlangs ‘n openbare vergadering gehou om ‘n oop gesprek met die gemeenskap aan te knoop. Levendal Developments, 'n ontwikkelingsmaatskappy wat bestaan uit Power Developments, The Lord Trust en 'n swart bemagtigingsmaatskappy, lê tans 'n ontwikkelingsvoorstel voor om gedeeltes van 14 plase en 'n bestaande oord in die Suider-Paarl area onder te verdeel, te hersoneer en te herontwikkel.
Die voorgestelde ontwikkeling is 'n volhoubare ontwikkelingsinisiatief wat gemik is daarop om maksimale geleenthede te verskaf vir sosio-ekonomiese opheffing sonder om die landelike en landboukundige aard van die area in te boet.
Die vergadering is deur sowat 70 mense van die gemeenskap bygewoon, met ‘n goeie verteenwoordiging van alle partye - van boere en plaaswerkers tot sakelui en inwoners van Suider-Paarl.
Onder die plaaswerkersgemeenskap, met wie daar reeds vantevore ‘n afsonderlike vergadering gehou is om inligting te deel, is daar ‘n positiewe gevoel oor die feit dat behuising vir hulle op ‘n eietitelbasis aangebied word, en die ontwikkelaars het dit duidelik gemaak dat daar geen verborge koste betrokke sal wees nie.
Die gesubsidieerde behuisingskema word beplan vir die area naby die huidige ambagskool, wat as deel van die projek ook aandag sal kry.
Die plaaslike owerhede is positief oor die sosiale en ekonomiese bydrae wat die Levendal ontwikkeling aan die area kan lewer.
Drakenstein uitvoerende raadslid vir behuising, Arthob Petersen, sê: “Enige ontwikkeling wat behuising probeer aanspreek, is uiters welkom - veral omdat hierdie ‘n gemengde behuisingsontwikkelingsprogram is, wat die lae inkomstegroep sowel as die middel en hoë inkomste groepe dek. Dit lui ‘n opwindende nuwe fase in wat behuising in Drakenstein betref.”
‘n Bron van bekommernis vir die gemeenskap was dat die oorspronklike grootte van die ontwikkelingsarea intussen verander het, en die vraag was of dit waartoe hulle nou toestem, gaan ooreenstem met die uiteindelike produk.
Die ontwikkelaars het beklemtoon dat die huidige ontwikkelingsvoorstel in die komende maande nog kan wysig tot ‘n beperkte mate en dat dit juis die doel van die publieke deelnameproses is om almal die geleentheid van deelname te gee.
Alle kommentaar, besware en ondersteuning wat deur die deelnemende publiek voorgelê word, word aangespreek en deel gemaak van die uiteindelike finale konsep wat deur die owerheid oorweeg word vir goedkeuring.
Die proses bly deurentyd deursigtig en akkommoderend van insette deur die publiek.
“Daar is ‘n goeie begrip vir die feit dat die einste gemeenskap waarvan Levendal deel sal word, ook toekomstige kliënte en bure gaan word en dat die produk wat op die mark geplaas word, die produk moet wees wat die kliënt wil koop en die bure geredelik mee kan saamleef,” sê Josua van Tonder, projekbestuurder vir Power Developments.
Die ontwikkeling sluit ‘n woonwapark en openbare piekniekarea in, sowel as ‘n voëlreservaat op die eiland in die rivier.
Behuising sal die volle spektrum dek; vanaf gesubsideerde plaaswerkerbehuising tot middelinkomste en eksklusiewe behuising.
“Die behuising sal grotendeels op reeds beboude of versteurde grond plaasvind, met die minimum ontwikkeling op lae potensiaal landbougrond, sodat die landbougrond in die area steeds vir landboudoeleindes aangewend word, en die inwoners as te ware op ‘n werkende plaas woon,” sê Van Tonder.
Die steengroef oos van die hoofpad gaan herwin en gerehabiliteer word, en inheemse fauna en flora sal aangemoedig word om die area tot sy oorspronklike natuurlike toestand te herstel.
Om deel te neem aan die deurlopende gesprek met die ontwikkelaars of om by te dra tot die omgewingsimpakstudie, kontak Belinda Gebhardt, Senior Omgewingskonsultant van SRK Consulting, Postnet Suite #206, Private Bag X18, Rondebosch 7701 by tel 659-3060, faks 685-7105 of bgebhardt @srk.co.za. Rig kommentaar oor die ontwikkeling kan gerig word aan jvtonder@power group.co.za of Posbus 129, Blackheath, 7581.
More
News
|