Trap rem teen sulke insleepdienste
2006-06-22
EK het die berig in Paarl Post 15 Junie “Oorlog onder sleepdienste”, met belangstelling gelees.
Ten spyte van verskeie uitstaande klagtes van beweerde aanranding, dronkbestuur en hofbevel ten gunste van ’n slagoffer, blyk dit dat die eienaar van Boland Towing net nie leer uit vorige ervaring nie.
My seun was ook ’n slagoffer van hierdie man en sy meelopers in 2002.
Nadat sy motor op die Simondiumpad naby Paarl gerol het, was daar duidelike instruksies dat die motor na sy woning in die Paarl gesleep moet word. Die adres en telefoonnommer is verskaf en daar is ooreengekom op ’n bedrag van R375.
Met die versekering dat ons maar kan ry en hom by die huis inwag, is die motor egter na Boland Towing se perseel gesleep.
Na ’n lang gewag, oproepe en vele gesukkel, kon ek die eienaar eers die volgende dag opspoor. Daar is baie “beleefd” verskoning gemaak vir die kommunikasiegaping met die wegsleep van die motor.
Ek moes toe eers ’n bedrag van R1650 betaal vir “salvage, recovery, admin. fee”, alles afgerond tot die verste rand.
Ek is daarop gewys dat hy ook geregtig is op “six day storage”, maar dat ek goedgunstiglik daarmee tegemoet gekom sal word.
Ek haal my hoed af vir Leon Andrews, maar het ’n lang uitgerekte hofsaak liefs vermy en die bedrag betaal, al was die motor toe reeds sonder radio en battery.
As die gemeenskap dan moet opstaan teen misdaad sluit dit ook die “besighede” in wat hulle mededingers intimideer, traumatiseer en hulle eiendom beskadig.
Daar is geen regverdiging vir die bullebak-optrede nie en dit verdien nie die publiek se respek nie.
Dankie aan Paarl Post vir die berig en ook die feit dat u die lesers inlig en ook motoriste bewus maak van hulle regte tydens ’n motorongeluk.
Anti-misdaad
More
News
|