Kuns kry nuwe plek
2006-06-29
DIEGENE wat ’n dekade gelede die opening van die Coaten kunsversameling in die ontspanningsaal van die destydse Onderwyskollege op Wellington bygewoon het en vandag weer daarna wil kyk, hoef nie te skrik as hulle nou net ’n lesingsaal met gordyne aantref nie: ná verbouings het dié versameling illustrasies ’n nuwe uitstalplek gekry.
Weens groeiende studentegetalle is die Coaten-saal, wat ook op ’n stadium ’n kafeteria was, ’n jaar of wat gelede ombou tot nog ’n lesingsaal vir die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Die Coaten kunsversameling moes toe ’n ander heenkome kry en is deels na die ruim personeelkamer verskuif.
Die volledige stel geraamde illustrasies in pen of potlood is onlangs weer netjies daarin gehang en tematies saam gegroepeer.
Die Coaten-versameling beeld van die beste werke van die illustreerder Horace “Flip” Coaten uit, wat onder meer gebruik is om vervolgverhale soos “Fontein in die Dorsland” in die tydskrifte Sarie en Landbouweekblad te illustreer.
Hy was ook die gereelde illustreerder van “Doc” Immelman se boeke, asook dié van die Wellingtonse skrywer PH Nortje.
Wyle Coaten, ’n oud-leerder van die destydse Hoër Seunskool Wellington, het sedert die 1940s voltyds as illustreerder gewerk. Hy het die skuilnaam “Flip” die eerste keer begin gebruik toe hy in April 1943 ’n illustrasie gemaak het vir ’n jagstorie wat hy self geskryf het.
Coaten, wat baie lief was vir Bainskloof en ’n intieme kennis van die San-tekeninge van die omgewing gehad het, het in 1950 die familieplaas Weltevrede gekoop en uitgebou tot ’n appelkoos- en uitvoerdruiweplaas.
Dit is in 1960 onteien om Weltevrede Sekondêr en Weltevrede woonbuurt op te rig. Coaten het hierna na Bloubergstrand getrek.
Hy het ’n keur van sy werk aan die OKB Trust geskenk, danksy die inisiatief van die destydse bibliotekaris van die Onderwyskollege, John Matthews.
Dit sluit onder meer voltooide, asook deels-voltooide illustrasies in wat stories uit die vroeë dae van die Kaap, jagverhale en liefdesromans uitbeeld. Talle illustrasies is ook te sien wat PH Nortje se verhale oor Wellington en sy mense uitbeeld.
Die versameling is op 5 Mei 1995 geopen. Coaten, asook sy illustreerder-dogter, Lisa Hutchinson, was ook by hierdie geleentheid teenwoordig.
More
News
|