Almal wil help ná oproep om skenkings
2006-06-29
MET meer as 300 buise bloed wat onlangs op Wellington tydens ’n oggend vir beenmurgskenkers getrek is, moes spesiale reëlings met ’n laboratorium getref word om dit te analiseer.
“Ons kan eintlik nie meer as 250 trekkings op een keer hanteer nie,” het ’n oorstelpte Venessa Horn van die Sunflower-organisasie gesê.
“Toe ons besef hoe groot die belangstelling is en die begeerte van Wellingtonners om Hanneke Malan en ander te help, het ons dadelik reëlings getref.”
Daar is die oggend binne vier uur 301 buise bloed getrek in die NG Kerksaal.
Hanneke, boervrou van die plaas Groenvlei, het in Desember siek geword. Akute Miëloïde Leukemie is gediagnoseer en sy was maande lank in isolasie in die Constantiaberg Medi-Clinic terwyl sy chemoterapie ontvang het.
Sy was daarna in remissie, maar omdat dié tipe leukemie binne weke kan hervat, is die soektog begin na ’n geskikte skenker sodat sy ’n beenmurg-stamseloorplanting kan kry.
Niemand in haar familie is versoenbaar nie, ook niemand op die Suid-Afrikaanse beenmurgregister nie. Daar word nou internasionaal gesoek.
“Al kon ek nie gehelp word nie,” het Hanneke dapper ná die oggend op Wellington gesê, “is daar nou 301 nuwe skenkers op die register wat dalk iemand se lewe kan red.”
Hanneke is hierdie week weer in die hospitaal opgeneem vir verdere chemoterapie terwyl die soektog na ’n geskikte skenker voortgaan.
Kontak Venessa Horn (701-0661) van die Sunflower Fonds vir inligting om as skenker te registreer.
More
News
|