Paarliet maak groot skandes in Namibië
2006-06-29
DIE oud-Paarliet wat vier jaar gelede voor reuse bedrogklagtes land-uit gevlug het, is nou in Namibië aangekla van bedrog sowel as verkragting.
Sean Channing (26) is op 7 Junie in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van ’n tienjarige seun vroeër vanjaar op Otjiwarongo.
Tydens ’n borgaansoek verlede Vrydag het Channing aangebied om R1000 as borg te betaal omdat dit “al is wat ek kan bekostig”.
Die landdroshof het egter bevind dat dit te min is en gelas dat hy in aanhouding moet bly tot sy volgende verskyning op die verkragtingsklag op 10 Augustus.
Drie dae nadat hy moes hoor dat sy borgaansoek afgekeur is, is hy daarvan verwittig dat ’n klag van bedrog ook teen hom aanhangig gemaak is.
Die bedrag geld wat betrokke is, is R144 000. Geen besonderhede is bekend gemaak nie en die saak is vir verdere ondersoek uitgestel tot ’n volgende hofverskyning op 21 Augustus.
Channing is intussen van aanhouding op Otjiwarongo verskuif na selle by Outjo. Dié stap is gedoen nadat dit onder die polisie se aandag gekom dat sy lewe in gevaar is. Hy is deur mede-aangehoudendes gedreig.
Channing sal steeds op Otjiwarongo in die hof verskyn, maar sal op Outjo in aanhouding bly.
Channing was in 2004 by ’n beweerde bedrogspul in Namibië betrokke, waarna vier aanklagte teen hom gemaak is.
Nadat hy vroeg in 2002 in die Boland gesekwestreer is, het hy na Namibië spore gemaak en hom op Otjiwarongo gevestig.
Sonder werk het hy hom uitgegee as versekeringsagent, maar omdat hy bankrot verklaar is, was dié werk van hom onwettig. Die beleggings wat hy wederregtelik gemaak het, was glo ten bedrae van R1,5 miljoen.
Beperkte bewyse het die landdros genoop om dié saak voorlopig van die hofrol te skrap.
Channing sou reeds in die Boland in Suid-Afrika met sy skelmstreke begin het toe hy by ’n beweerde bedrogspul betrokke was waar miljoene rande betrokke was.
Hy het destyds saam met sy ouers in die Paarl gewoon, voordat hulle as gesin na Namibië verhuis het.
Die sake is later saamgevoeg en deur die bedrogtak in Kaapstad ondersoek, waar ’n ondersoeker die versekering gegee het dat, “as Channing vrygelaat word in Namibië, sal hy na Suid-Afrika gedeporteer word.”
More
News
|