Mannekrag in middedorp
2006-06-29
WINKELDIEWE het die botoon gevoer in die Paarlse middedorp tydens die onlangse sekuriteitstaking, maar daardie dae is nou verby.
Bykomende dringende stappe word gedoen om misdaad in die middedorp te bekamp nadat winkeldiefstal die afgelope twee maande met 400% toegeneem het.
Die middedorp-sektorpolisie het tien wagte aangestel wat deel sal vorm van die middedorp-buurtwag, wat daarop gemik is om winkels en hul kliënte te beskerm.
Hulle is sedert Vrydag in die middedorp werksaam en het reeds ’n paar suksesvolle arrestasies gemaak.
’n Man is aangekeer nadat hy ’n winkel binnegegaan het en blitsig met ’n splinternuwe hemp aan, te voorskyn gekom het. ’n Oplettende lid van die buurtwag het verseker dat hy in hegtenis geneem is.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat die gewildste goedere wat uit winkels gesteel word klerasie is, en dat winkels elke jaar derduisende rande verloor weens winkeldiefstal.
Dié buurtwag het tans vyf tweerigtingradio’s tot hul beskikking, en dit stel vir hulle in staat om direkte verbinding met die polisie te hê, sowel as met winkeleienaars.
Die vorige middedorpbuurtwag word tans opgelei as polisiereserviste, en wanneer hul opleiding voltooi is, sal hulle aansluit by die buurtwag om die middedorp te beveilig.
Tans is daar twee geslotebaan-kameras in Lady Greystraat, en ’n derde sal binnekort aangebring word.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle graag die buurtwagte wil vermeerder, maar hulle maak staat op plaaslike besighede en selfs individue om hul samewerking te gee.
“Ons maak staat op finansiële bydrae om die program te bewerkstellig, maar uiteindelik sal almal daarby baat.”
Diegene wat meer inligting hieroor wil hê, kan vir insp Rickus Steenkamp skakel by 082-379-4735.
More
News
|