Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Polisie-tydbom

Polisie-tydbom
 
2006-06-29


WELLINGTON se polisiestasie is byna ’n eeu gelede opgerig om 25 dienders te huisves. Met 130 lede vandag tussen dieselfde mure, bars die gebou letterlik uit sy nate.

En soos die nate oopskeur en personeel daagliks ’n stoeldans uitvoer om werkspasie te kry, so dop die verf af, lek die dakke, muf die mure.

Met ’n besoek aan die kantoor was Wes-Kaapse parlementslid Pierre-Jeanne Gerber van Wellington so geskok dat hy ’n skrywe aan die minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, gerig het.
Die geboue wat die polisie huisves, is in ’n “haglike toestand”, het hy geskryf.

Die hoofgebou is 75 jaar gelede ontwerp om 25 polisielede te huisves, met ruim kantore en ’n snoekerkamer. Vandag egter, huisves die gebou 130 lede. Die snoekerkamer van 48 vk meter is ingerig as administratiewe kantoor en skakelbord.

In dié vertrek werk tien lede met drie rekenaars, ’n faksmasjien, fotostaatmasjien, nege staalkabinette, twee staalkaste en agt tafels.
Die ou snoekerkamer is vandag die hartklop van operasionele beplanning, misdaadvoorkoming, menslike hulpbronne, die stasie se liasseerstelsel en die logistiek rondom die voertuigvloot.

Lede van die publiek skuur teen mekaar in die oorvol kantoor wanneer hulle aandoen vir openbare bestuurspermitte of vuurwapenlisensies.

Daar is nêrens kombuisgeriewe nie. Water vir koffie moet in die toilet getap word en koppies word in ’n waskom in die kantoor gespoel.
Daar is onlangs ’n lugreëlaar ingebou, maar dit kan nie aangeskakel word nie. Die kragtoevoer laat dit nie toe nie.

In dié kantoor is daar een muurprop wat gebruik word vir die telefoonstelsel, die fotostaatmasjien, die faksmasjien, die ketel, drie rekenaars, drie skerms, ’n drukker en vier waaiers.

“Die gebou kan enige dag afbrand. Die toestand is ondraaglik en ongesond,” skryf Gerber.

“Neem dié feite, die werklading, die somerhitte en frustrasie, en jy het ’n tydbom wat wag om te ontplof.”

Die toestand van die gebou, ook die feit dat die ganse elektriese installasie oorlaai is, is al telkemale onder die aandag van die departemente van veiligheid asook gesondheid gebring, maar tot dusver sonder resultate.

Op die perseel is onlangs drie houtstrukture opgerig waar polisiebeamptes tot drie in ’n vertrek werk - al is daar net plek vir twee lessenaars.

“My kantoor is my stoel,” sug een van die offisiere.

In die somer styg die kwik tot 45 grade. In die winter lek dit, word die papiere muf en word dit so koud dat die lede dubbele lae klere moet dra.

Daar is net een vroue- en een manstoilet vir die 130 lede. Dit is onlangs deur die lede self, met eie fondse, opgeknap.

Vir die publiek - ook vir besoekers aan die landdroshof - is daar in ’n geboutjie waar die verf afdop en die klammigheid deur die mure drup, ’n buite-urinaal en ’n toilet - sonder sitplek en met ’n stukkende trektou.

In die agterplaas tussen die stasie en die polisieselle is ’n ondergrondse petroltenk in onbruik, waar 12 000 liter brandstof geberg was.

“Dit is nie bekend hoeveel brandstof nog in die tenk is nie. ’n Vonk kan ’n ontploffing ontketen soos Wellington nog nooit gesien het nie,” vrees Gerber.

Bestuurders moet hul ry ken en ook hier ’n eierdans uitvoer om die vloot polisievoertuie in die beknopte agterplaas te parkeer en in ’n noodgeval, haastig daar uit te kry.

In die oorspronklike perdestalle is drie kantore ingerig. Dit dien vandag as logistieke afdeling, vuurwapendepot en ’n oorvol stoor vir bewysstukke en gevonde eiendom.

Die perseel wat deur die speurtak gebruik word, is die voormalige stasiebevelvoerderswoning. Speurders werk twee-twee by lessenaars in die voormalige slaapkamers. Tot die ou spens en waskamer is as kantore ingerig.

“Help asseblief hierdie lede wat ons dien en beskerm,” het Gerber in sy brief aan die minister versoek.

In antwoord het minister Nqakulu geskryf: “Die bou van ’n nuwe polisiestasie op Wellington is een van die top prioriteite in die Wes-Kaap.
“Die nuwe polisiestasie, insluitende kantore vir die speurtak, sal opgerig word op staatseiendom en die huidige polisiestasie sal verander word in enkel- en getroude kwartiere.”

Bevestiging van die beoogde perseel, en die datum wanneer beamptes kan hoop om na beter geriewe te trek, is nog nie verkry nie.

* Wellington’s police station is “a time bomb”, says MP Pierre-Jeanne Gerber regarding the “terrible working conditions”.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za