Pad eis pa van vier
2006-06-29
'n PA van vier jong kinders is Vrydagaand tragies dood in ’n grusame motorfietsongeluk in Hoofstraat, Suider-Paarl.
Wilro Nel (39) was Vrydagaand omstreeks 22:30 onderweg na sy huis in Courtrai, toe hy naby Laboriestraat in Suider-Paarl met ’n Opel Corsa gebots het.
Nel is van sy blink, silwer Kawasaki motorfiets tot aan die oorkant van die pad geslinger, waar hy deur ’n aankomende voertuig getref is. Hy is vermoedelik op slag dood.
Die ongeluk het sowat 50 meter van die afrit na Courtrai plaasgevind, wat Nel na sy huis toe sou neem.
Nel, ’n boorling van Carnarvon, se familie het ’n tragiese geskiedenis van motorongelukke.
Sy boetie, Barrie, is destyds op die ouderdom van agt jaar dood in ’n ongeluk op die familie-plaas, toe ’n duinebesie waarmee hulle pa gery het, omgeslaan het.
’n Paar jaar later is sy oom, Piet Nel, dood nadat hy ’n noodlottige motorfietsongeluk op sy plaas gehad het.
Hierna is Nel se pa, Danie, ook dood nadat sy bakkie die pad verlaat het, onderweg vanaf Carnarvon na hul plaas.
Nel en sy vrou, Riana, het twee jaar gelede van Carnarvon na die Paarl verhuis, waar Wilro ’n besigheid, Autospeed, geopen het.
Hulle het vier kinders: Soria (10), Danie (4) en ’n tweeling, Michelle en Danielle (7). Soria en die tweeling is leerlinge by die Laerskool Courtrai.
Riana het gesê dat haar man ’n saggeaarde mens was wat lief was vir die lewe sowel as sy medemens.
Hy was ’n gretige motorfietsentoesias wat lid was van die Interceptors motorfiets-klub in die Paarl.
Hy word môre om 12:00 by die Parys-begraafplaas ter ruste gelê.
More
News
|