Hulle kook
2006-06-29
TELEPATIESE golwe en skietgebedjies tussen Kalifornië en die Wes-Kaap gaan Dinsdag en Woensdag witwarm loop, wanneer die jaarlikse eindronde van die Toptienerkokkompetisie plaasvind by die Santé Winelands Wellness Spa naby die Paarl.
Terwyl drie leerders van Hoërskool Hugenote op Wellington, Danélle Carstens, Ierret Groenewald en Johanna Joubert, sake gaan uitkook teen vyf ander finaliste van regoor die land, sal hul leerkrag, Linda Bruyns, op vakansie vanuit Amerika duisende kilometers daarvandaan styf vir hulle moet duimvas hou.
Met ‘n laaste “julle bel my al is dit hoe laat in die nag” en heelwat drukkies het sy haar toptrio verlede week by die skool gegroet.
“Hulle is mos my supersjefs,” lag sy, “en ek het darem in die afgelope tyd genoeg vir hulle gepreek!”
Linda, wat reeds sedert 1983 aan Hoërskool Hugenote verbonde is, het in 1993 die eerste keer leerders vir dié kompetisie ingeskryf nadat die skool lank deelgeneem het aan ‘n soortgelyke kompetisie van die SA Droëvrugteraad. Danksy haar inspirasie en insette het die skool sedertdien reeds 26 finaliste opgelewer, asook vier algehele wenners.
Dié kompetisie van die tydskrif Rooi Rose is iets waarvan baie meisies reeds van jongs af droom om aan deel te neem. Die keuring word anoniem gedoen, en eers daarna word aangedui van watter skool die finaliste afkomstig is.
“Dit is dus nie outomaties dat as mense sien ‘n inskrywing is van Hugenote en omdat ons al ‘n goeie naam in die kompetisie het, jy ‘n finalis is nie. Die meisies kom op hul eie stoom in die eindronde,” vertel Linda.
Vanjaar se tema is “vingerkos”, en elkeen moet volgende week ses geregte in vyf ure voorberei en keurig aan die beoordelaars voorsit. Vir hul resepte moet hulle bestanddele van die borge insluit.
Danélle gaan “funky” vingerkos maak wat gepas sal wees vir’n moderne kunsuitstalling, terwyl Ierret ‘n Elvis-tema gaan inspan vir versnaperinge vir haar pa se 50ste verjaarsdag.
Johanna weer, gaan ‘n draai in die rolprentwêreld maak en filmsterre by die Cannes Filmfees onthaal met ‘n kombinasie van geregte met ‘n Franse flair en ‘n Suid-Afrikaanse kinkel vir die vrystelling van die rolprent Ttotsi.
Elkeen het reeds groot pryse vir hulself en die skool gewen. Sou een van hulle die algehele wenner wees, sal ‘n “moviese groot beker” ook saam met hulle Wellington toe kan kom.
Daarby kry elkeen van die finaliste ook erekleure van hul skool vir hul prestasies.
“En ons gaan in die tydskrif wees,” voeg Johanna, ‘n voormalige Mej Hugenote Hoër en die skool se onderhoofdogter, by.
“Met heelwat nuwe borge en ‘n nuwe aanslag is die kompetisie vanjaar op ‘n ander vlak en ‘n groter uitdaging,” glo Linda.
Daarom dalk dat die drie finaliste nog in die volgende paar dae ‘n laaste paar keer sal bak en brou aan hul resepte voordat Dinsdag.
More
News
|