Groot fout met Franschhoek riool
2006-06-29
DAAR is groot fout met die water- en sanitasiestelsels van Franschhoek, volgens ’n verslag van die Departement Waterwese wat onlangs aan die Stellenbosse stadsraad voorgelę is.
Die rioolwerke op dié dorp is oorlaai, is nie in staat om die afloop ordentlik te suiwer nie (slegs 25% van die vereiste vlakke van suiwerheid word bereik) en beskik nie oor ’n permit nie. Ook die waterstelsel laat veel te wense oor.
Die Departement Waterwese is uiters bekommerd oor die besoedeling van die Bergrivier deur die afloop uit Franschhoek.
Daar is onder meer tydens inspeksie bevind dat ’n sluis by die rioolwerke oopgelaat is en dat ongesuiwerde riool in die Stiebeuelrivier, wat afloop na die Bergrivier, oopgelaat is.
Dit is die tweede keer die afgelope jaar dat dit gebeur.
Volgens die departement is die daaglikse bestuur van die rioolwerke onbevredigend en die ontoereikende suiwering van die afvloei moet onmiddellik aangespreek word. Die vereiste maandelikse verslagdoening is die afgelope twee jaar nie uitgevoer nie.
Die Departement Waterwese het aangedui dat geen ontwikkelingsaansoeke in die gebied goedgekeur sal word voordat die rioolwerke op standaard is nie.
Die Departement het ook sy kommer uitgespreek oor of daar voldoende magtiging verkry is vir die waterverbruik wat beoog word met die beplande nuwe watersuiweringswerke bo-op die Franschhoekpas. Planne vir die projek is reeds ver gevorder.
Die nuwe burgemeester van Stellenbosch, Lauretta Maree (DA), het opdrag gegee dat die konsultant wat die permitaansoek vir die rioolwerke hanteer, dringend aanbevelings moet maak oor hoe die probleme reggestel kan word.
More
News
|