Pasop vir sulke begrafnisondernemers
2006-06-29
NADAT ons dogter oorlede is, het ons dadelik reëlings begin tref dat haar as vanaf Soutrivier lykshuis na die Paarl vervoer word. Ons is R5965 gekwoteer daarvoor.
Ons het die lyksbesorger in die Paarl gevra of dit die beste prys is en hy het gesê dit is, en ons moes die geld dadelik betaal om die proses aan die gang te sit.
Om ’n geliefde aan die dood af te staan is bitter traumaties, veral as dit onverwags was en dit ’n jong persoon is. Ons was nie emosioneel in staat om te kibbel oor die prys nie.
Die lyksbesorger het belowe dat hy haar klere wat sy tydens die ongeluk aangehad het, saam met die as sou terugbring.
Ná twee weke het ons nog nie die klere gehad nie en ons wou dit baie graag terugkry, omdat ons vermoed het dat haar hangertjie wat sy aangehad het, kon daarby wees.
Ek het die lyksbesorger geskakel en baie kortaf het hy my verwittig dat ek dit self moet gaan haal in Soutrivier.
Nadat ek hom herinner het dat dit die ooreenkoms was dat hy dit sou bring en die lykshuis net die klere aan die lyksbesorger gee, het hy die klere twee dae later gehad. Ons het die hangertjie gekry.
Weereens het ons die prys van die verassing bevraagteken, veral omdat die diens so swak was. Die lyksbesorger se antwoord was dat die kis waarin sy veras was R5 000 gekos het.
Ek het twee maande later begin navraag doen by ander lyksbesorgers en uitgevind dat die kis waarin ’n lyk veras word, R350 kos en die verassing self R380.
Ek het die betrokke maatskappy weereens geskakel en gevra vir ’n kwotasie per faks vir verassing en vervoer van die as vanaf Soutrivier lykshuis tot in die Paarl.
Die maatskappy het nie besef dat dit ek was nie, en het ’n kwotasie vir verassing per faks gestuur - R2 200.
Ek het ’n ondersoek aangevra, waarop die begrafnisondernemer se verteenwoordiger my geskakel en gesê het: “Mev Cloete, as jy nie kon betaal vir ’n verassing nie, moes jy gesê het.”
Nadat ’n ondersoek van stapel gestuur is, het ek sonder enige verduideliking ’n tjek van R3 676 in die pos ontvang.
Met hierdie houding van ’n begrafnisondernemer besef ek dat baie mense in die Paarl ingeloop word. Die kliënte word emosioneel en geldelik uitgebuit in ’n tydperk wat hulle geen weerstand kan bied nie. Indien u enige raad wil hê of voel dat u uitgebuit is, kontak my by 072-240-5106.
Ada Cloete
More
News
|