Rugbygeweld moet nou stop
2006-06-29
KLUBS in die Boland is dit eens dat geweld op die rugbyveld nie langer geduld kan word nie.
Rugbygeweld het vandeesweek weer skerp onder die soeklig gekom nadat ’n speler van Rawsonville verlede Vrydagaand in ’n Boland Premierliga-wedstryd teen Delicious ernstig aangerand is.
Die losskakel, Riaan Loots, is Saterdagoggend breindood verklaar nadat hy met ’n stywe arm op die strot geslaan is en hy op die grond teen die kop geskop is.
Die lewensonderhoudende masjiene waaraan hy gekoppel was, is Sondag afgeskakel.
Delicious se deelname aan rugby in die Boland is opgeskort hangende ’n ondersoek deur die Boland Rugby Unie (BRU).
Dié Unie het vandeesweek kwaai onder kritiek deurgeloop oor sy hantering van klubs wat hulle aan vuilspel skuldig maak.
Soortgelyke voorvalle kom al die afgelope 12 jaar voor en word grootliks aan rassehaat toegeskryf, met die toeskouers wat dikwels die spelers aanhits om mekaar te lyf te gaan.
Die oorblywende nege rugbyklubs wat in die Boland se Premierliga speel, vergader vanaand met die uitvoerende komitee van die BRU om die kwessie te bespreek.
“Ons wil verseker dat sekere aspekte in plek is voordat ons instem om verder in die liga te speel,” het die voorsitter van Wellington Rugbyklub, Dolf Stemmet gesê.
Hy het bygevoeg dat dit nie net die sogenaamde blanke klubs van Wellington, Ceres en Rawsonville is wat keelvol is vir die stand van sake nie.
Volgens hom het klubs soos Worcester Villagers en Roses United ook sterk standpunt ingeneem teen Boland se gebrek aan voldoende strafmaatreëls teen klubs wat hul aan vuilspel skuldig maak.
“Daar was in die verlede voorvalle waar die video-opname van ’n wedstryd nie ’n skuldige speler kon uitwys tydens ’n bakleiery nie.
Weens ’n gebrek aan bewyse het die klubs dan lig daarvan afgekom.
“Maar rugby is ’n spel met reëls - hoekom moet daar deur hofsake en prokureurs straf uitgedien word? As ’n klub hom aan rugbygeweld skuldig maak, moet hy gestraf word.
“Ek besef die president van Boland Rugby, (Jackie Abrahams) sien rugby as ’n versoeningsport, maar ’n spel het reëls, en daar moet by die reëls gehou word.”
Hy het bygevoeg dat dit geensins gaan oor wit klubs wat nie teen bruin klubs wil speel nie.
“Dit gaan nie oor kleur nie, maar oor die rugbyspelers - hoe beskerm die Unie sy spelers op die veld?”
Volgens Stemmet was die rugbyklubs van Moorreesburg en Malmesbury, wat verlede seisoen Boland Rugby verlaat het juis weens geweld op die rugbyveld, op die punt om volgende seisoen weer terug te kom.
“Hulle het egter vir my gesê daar is nie ’n manier hoe hulle nou oortuig kan word dat klubrugby in die Boland veilig is nie.
“Die naweek se voorval was net petrol op die vuur vir wegbreek-groepe soos Rugga (’n onafhanklike rugbyliggaam),” het Stemmet gesê.
Stemmet se skerp uitsprake word deur Roses United Rugby se voorsitter, Anthony Josephs, beaam.
“Ons as klub kan nie met rugbyboewery saamleef nie, sulke gedrag hoort nie in rugby nie,” het Josephs gesê.
Hy stel voor dat die klubbesture gereeld bymekaar kom en tesame met Boland Rugby voorvalle bespreek.
“Die groot probleem is egter die toeskouers - daar is steeds rassespanning en dis die hoofoorsaak van geweld by wedstryde,” het Josephs gesê.
“Rugby is daar om bande tussen spelers en gemeenskappe te bou, maar as klubs hulle aan dié tipe gedrag skuldig maak, móét daar genadeloos teen hulle opgetree word.
“Ons kan nie mense, en spesifiek die kinders wat lief is vir rugby, die sport ontneem, net omdat daar mense is wat nie hulself kan gedra nie,” het hy gesê.
Die Boland Rugby Unie het vandeesweek in ’n verklaring die Rawsonville-voorval sterk veroordeel.
“Ons verwerp onvoorwaardelik voorvalle van rugbyboewery en onmenslike aanvalle met die doel om ernstig te beseer, teen enige persoon of persone wat ons wedstryde speel, administreer of bywoon.
“Die voorval te Rawsonville is een te veel en ’n indringende ondersoek sal gedoen word deur ’n senior advokaat om die feite van die voorval te ontbloot.”
Die verklaring lui verder: “Die onverdraagsaamheid van medemense en die neiging om geskille en verskille met geweld op te los, is die één groot faktor wat al ons pogings om te transformeer, verongeluk.”
More
News
|