Gemengde sukses vir WP, Boland o.16's
2006-06-29
DIE Boland-span het gemengde sukses behaal ná die eerste twee dae van die Grant Khomo week wat vandeesweek op Wellington gehou word.
Die Boland het in die hoofwedstryd die eerste dag naelskraap 13-11 teen Natal vasgeval.
Natal het die wedstryd teen ’n blitsige tempo begin en Boland omtrent deurmekaar gehardloop.
Die klein piesangtjies is in die 12de minuut beloon toe ’n strafskop voor die Bolandse pale aan hulle toegeken is.
Losskakel Storm Pearton het die drie punte op die bord gesit.
Die Boland het hierna goeie besit bewerkstellig en die agterspelers kon bewys lewer van die spoed waaroor hulle beskik.
Dit het vrugte afgewerp en in die 18de minuut het die Boland-losskakel, Louw Heunis van Hugenote Hoërskool, ’n strafskop oorgeklits.
Natal het deurgaans verkies om met die bal te hardloop selfs vanuit hul eie kwartgebied, ondanks die druk wat die Boland op hul uitgeoefen het.
Dit het hulle duur te staan gekom, toe hulle besit verloor na ’n afslaan.
Boland kry die bal en stuur aan die kleinkant vir vleuel Sampie Mastriet weg.
Mastriet word kort voor die doellyn platgetrek maar sy wip-aangee word deur Franklin Smit raakgevat en dié stut val oor die lyn vir sy drie.
Dit het die tuisspan van ’n rustydvoorsprong van 8-3 besorg. Natal het die tweede helfte met ewe veel dringendheid begin en is vroeg met ’n strafskop beloon wat deur Pearton verdoel is.
Vyf minute later het Boland egter sy vyf punt kussing terug, toe Heunis weer ’n strafskop oor die pale stuur.
’n Stukkie inklimspel deur die Natallers van ’n lynstaan af het die slot, Steen Smith, geleentheid gegee om te druk nadat hy deur die laagvatte van verskeie Boland-verdedigers gebars het.
Pearton was in die kol met die doelskop en het die besoekers 13-11 laat voorloop.
Hierna het die spel deurgaans van die een kant van die veld na die volgende geskuif, maar geen span kon verdere punte aanteken nie.
Dinsdag het die Boland teruggeveg om die Poemas 15-12 in koue, nat weerstoestande te klop.
Boland se held dié dag was Anthony Volminck wie se twee drieë in die tweede helfte hulle van ’n oorwinning verseker het.
Volminck het in die sesde minuut van die tweede helfte sy eerste drie behaal, met die telling 12-5 in die Pumas se guns.
Kort daarna het hy weer in die doelgebied gaan kuier om die Boland vir die eerste keer in die wedstryd te laat voorloop.
In die eerste helfte het die besoekers se senter, Dewald Pieters, gaan druk, nadat die Boland nie ’n hoë bal kon beheer nie. Die doelskop is deur Gary van Aswegen (losskakel) behaal.
Boland se Matriet het hierna teruggekap met ’n drie, maar die Pumas het, met die rustydsirene wat reeds gelui het, weer ’n strafskop pale toe behaal.
Die WP-span het dieselfde paadjie as die Boland geloop.
Die Streeptruie het op die eerste dag 27-22 (22-10) teen die Leeus vasgeval, maar Dinsdag vir Griekwas 14-0 laat les opsê.
Die WP, wat deur die Boishaaier William Clift aangevoer word, het Maandag aanvanklik geen antwoord gehad op die Leeus se vlugvoetige agterlynspel nie.
Die Leeus se Clinton Wagman (vleuel) en Elton Jantjies (losskakel) was die dorings in die WP se vlees.
Wagman het twee drieë gedruk, terwyl Jantjies een keer in die doelgebied gaan kuier het en suksesvol was met twee doelskoppe en ’n strafskop.
Divan Ferguson (senter) het ook ’n drie gedruk.
Die WP se drie drieë is deur Paulus Viljoen (haker), Christiaan Bester (flank) en Curtis Ellers (vleuel) gedruk. Die heelagter, Tameez Vayej het met ’n strafskop en twee doelskoppe geslaag.
Teen die Griekwas het die WP-pak goed oorheers, terwyl die Streeptruie met beter hantering kon spog in die nat weer.
Griekwas se hantering het hulle telkens in die steek gelaat en dinge is bemoeilik deurdat hulle telkens vanuit hulle eie kwartgebied moes aanval.
Die slot, Philip Hanekom, het in die 24ste minuut die eerste punte op die bord gesit toe hy van ’n losgemaal deurbars om onder die pale te druk.
Losskakel Edgar van Wyk (Hoër Landbouskool Boland) het die twee punte bygevoeg om die rustydtelling 7-0 te maak.
’n Drie deur die vleuel, Curtis Ellers, laat in die tweede helfte en die doelskop deur Van Wyk het die Griekwas se lot beslis.
Die Boland o.16B-span het 7-7 gelykop gespeel teen Namibië, met Jevone Gillion wat druk en Llewelyn Lloyd wat verdoel, en Dinsdag vir Grens 10-5 geklop. Gillion en Tashwill van Zyl het elk 'n drie gedruk.
Vandag se wedstrydbepalings is: (08:00) Griekwas t Namibië, (08:30) Pumas t Griffons, (09:15) Boland XV t Luiperds, (09:45) Grens Kus t Limpopo, (10:30) Boland t Vrystaat, (11:00) Grens t Blou Bulle, (11:45) Valke t SWD, WP t OP, (13:00) Kwazulu Natal t Leeus.
More
News
|