Ouers, waar is julle kinders?
2006-07-06
OUERS, ek waarsku julle om nie lekker te slaap terwyl julle nie weet waar julle kinders, veral oor naweke, is nie. Miskien sit hulle in die sjebeens, en as hulle daar uitkom, vang hulle agterna onverantwoordelike dinge aan.”
Dit is die waarskuwende woorde wat Wes-Kaap Minister van Gemeenskapsveiligheid en Sekuriteit, Leonard Ramatlakane, by ’n jeugsportsaamtrek by Klapmuts Sportgronde verlede Saterdag gerig het aan sy gehoor.
Hy en Wes-Kaap premier Ebrahim Rasool het ’n Jeugdag-sportbyeenkoms bygewoon as deel van die “Staan op teen Misdaad” veldtog teen dwelms, alkoholmisbruik, tienerswangerskappe, misdaad en HIV/Vigs.
Die dag se aktiwiteite het sportwedstryde ingesluit tesame met ’n springkasteel, musiek en speletjies. Klapmuts jeugorganiseerders wou hiermee talent uitken en die jeug mobiliseer.
Een van die Klapmuts Jeuglede Mandy Mlambo het ’n vurige pleidooi namens die jeug gerig vir werkskepping, voldoende fasiliteite soos ’n biblioteek en rekenaarsentrum.
Sy het ook gevra dat die onderrig van haar Xhosa-moedertaal by die leerplan ingesluit moet word.
Die voorsitter van die Wes-Kaap Jeugkommissie, Vincent Domingo, het gesê dat dit die jeug se verantwoordelikheid is om te studeer en om misdaad te beveg deur nie byvoorbeeld gesteelde goedere by misdadigers te koop nie.
“Ouers, moenie borgtog vir misdadigers betaal nie.”
Minister Ramatlakane het die jeug gemaan om dwelms uit te los. Hy het ouers gevra om verantwoordelikheid te neem en nie toe te laat dat bendes in die gemeenskap oorneem nie, “want hiermee sal 50% van misdaad reeds opgelos wees”.
Met verwysing na Klapmuts Primêr as geen fooie-skool, het Rasool ouers aangemoedig om te sorg dat hulle kinders skoolgaan besig bly, van dwelms weg bly, rekenaargeletterd te word en om hulp te verleen om tienerswangerskappe teen te werk.
Rasool het sporttruie en sportapparaat aan die Klapmuts jeugleier, Raymond Zeze, oorhandig vir gebruik deur die gemeenskap.
* Cabinet members of the Western Cape have asked Klapmuts parents and youths to assist them in the fight against crime and drugs.
More
News
|