Min hoop vir boom
2006-07-06
PRAAT van die Paarl en ’n mens dink aan die weelderige eikebome wat die Hoofstraat versier. Maar ’n plaaslike eiendomsagentskap het daarvoor gesorg dat een van dié bome waarskynlik tot niet is.
Voor Seeff Eiendomme naby Hoër Jongenskool staan ’n ry jong eikebome wat geplant is om oues te vervang wat noodgedwonge verwyder moes word.
Alhoewel die bome klein is, is hulle reeds tussen 18 en 20 jaar oud. Een van dié bome wat voor Seeff groei, is onlangs in opdrag van hul eienaar, Jaco van der Westhuizen, feitlik afgesaag.
Rory Phelan van die munisipale afdeling het sy ontsteltenis uitgespreek oor die skade.
“Die Munisipaliteit doen groot moeite om die groen erfenis van die Paarl te bewaar en die ou eikebome word gereeld getoets en gesnoei, want ons wil die bome vir ons nageslag bewaar,” het Rory gesê.
Wanneer ’n boom noodgedwonge uitgehaal moet word, weens interne vrot, word dit waar moontlik vervang.
“Ons het ’n hele kwekery waar ons bome kweek en tans het ons 200 bome wat groot genoeg is om binnekort in ons strate geplant te word”.
Volgens Van der Westhuizen is die boom weens ’n misverstand beskadig.
“Ons snoei die boom gereeld, want dit groei teen ons naambord vas, en die Saterdag toe die Hane teen die Bokke gespeel het, het ’n man vir my genader wat werk gesoek het, en ek het vir hom gevra om die boom te snoei.
“Toe ek later die middag daar verby ry, sien ek dat die boom byna afgesaag is.”
Al die takke van die boom is afgesny, en die stam is byna deurgesaag.
Volgens Phelan is daar geen manier dat die boom weer sal groei nie en die stomp sal nou uitgehaal moet word. Sodra daar ’n geskikte boom by die kwekery gereed is, sal dit in sy plek geplant word.
“Dit ontwrig die hele laning bome in dié deel van die Hoofstraat.” Seeff Eiendomme het ’n boete van R500 betaal.
* A Paarl business has been fined for practically destroying an oak tree in Main Street.
More
News
|