Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dodelike drinkskrum

Dodelike drinkskrum
 
2006-07-06


’n GEKUIER met dodelike gevolge by Wellington - die sterfte van ’n plaaswerker en noue ontkoming van vier ander ná doppe brandewyn die naweek - maak wyd opslae.

Willie Appollis (42) is dood terwyl Dirk Samuels, Patrick Carolus, Joseph Kammies en Fred Fortuin hospitaal toe gehaas is nadat hulle skoon brandewyn saam met ’n boer in die Bovlei gedrink het.

Appollis het twee glase gedrink, Samuels ses, Carolus twee, en Kammies en Fortuin elk een en ’n halwe glas.

’n Sigbaar ontstelde Hugo Rust (26) van die plaas Naby het later vertel hoe hy en vriende Saterdagoggend halftien nog van die vorige aand by sy huis op die plaas gekuier en gebraai het toe een van die werkers daar opgedaag het.

“Hy wou geld leen en weet of hy dan nie ook iets te drinke kan kry nie. Ons het vir hom geskink, en vir die ander saam met hom.

“Vir Willie het ek toe gesê hy moet loop, want hy is nie van hierdie plaas nie. Hy is toe daar weg.”

“Willie het loop lê langs die pad en nie weer opgestaan nie,” het ’n drinkebroer, Johnnie Stadler, gesê.

“Hy is net daar dood.”

Tien werkers van Naby het aan die suipsessie deelgeneem.
Hulle vertel: “Ons is Vrydagmiddag betaal en toe is ons dorp toe.

Daar het ons wyn gekoop en die heel nag gedrink, papsakwyn en bier.”

Die Saterdagoggend het Kammies by die werf gaan wingerdstokke natlei.

“Ek het geld by Hugo gaan haal en toe vra ek ook iets te drinke terwyl hulle so lekker kuier. Toe die ander aankom, het hulle ook gekry, twee en ’n half bottels brandewyn altesaam.”

Die werkers het een na die ander omgeslaan, skaars meters van Rust se woning, al met die grondpad langs, tot by hul eie huise.

Fortuin het die huis gehaal, waar hy hulp gevra het voordat hy sy bewussyn verloor het.

Flip Pedro vertel hy wou dié dag nie drink nie, want hy moes nog die middag rugby speel.

Toe hy hoor van die mans wat oral lê, het hy gehelp om hulle met ’n kruiwa op te laai en na hulle huise te stoot.

Stadler sê: “Ek het gehoor van die mense wat so uit lê en ek wil toe ook so ’n kop kry.

“Toe gaan vra ek of daar dan niks vir my is nie. Hugo gooi toe ’n half glas, maar ek sê toe ek is mos nie ’n halfmens nie. Toe maak hy nog ’n bottel oop en skink vir my ’n vol glas by.

“Ek het sommer dadelik niks van myself af geweet nie. Ek hoor maar die ambulanse en die speurders was by my.”

Familielede wat gesien het hoe die mans om hul monde skuim, het die noodreddingsdienste geskakel.

“Hulle moes gou maak met die ambulans, of ons was almal dood soos Willie,” sê Fortuin.

“Ons was nie sterk genoeg vir dié groen botteltjies (vyf jaar oue KWV) nie,” het die manne saamgestem.

“Ons is mos Vrydag betaal, en toe het ons die heel nag gekuier.
“Ons het die oggend op ’n leë maag by Hugo kompetisie gedrink. Lekker met een asem het ons die doppe weggeslaan.

“As ons geëet het, was ons dalk sterk genoeg vir die brandewyn.”

Die vier is Sondagoggend uit die hospitaal ontslaan nadat hulle vir alkoholvergiftiging weens drankmisbruik, behandel is met vloeistof- en vitamieninname.

Appollis, van die buurplaas Groenendal, word oorleef deur sy moeder, Flora, vrou Regina en seun Willem (16).

Die tuisdiens is Sondag om 12:00 by sy moeder se woning op die plaas Lelienfontein en die kerkdiens daarna in die Wamakersvallei VG Kerk in die Bovlei.
* One man died and four were hospitalised after a farm drinking binge.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za