Kamermusiekfees op Stellenbosch
2006-07-06
TOP musici is volgende week op Stellenbosch vir die jaarlikse Internasionale Kamermusiekfees aangebied deur die departement musiek van die Universiteit.
Die konsertprogram sluit in aanbiedinge deur 24 internasionale en nasionale kamermusiekspesialiste en musici, ’n studentegroep van die Noorweegse Akademie vir Musiek, nasionale studentegroepe van die universiteit van Witwatersrand en die Vrystaat, die Beau Soleil Musieksentrum (Kaapstad) en die Mangaung Strykersprogram (Bloemfontein), asook deelnemers uit die VSA en Namibië.
Die fees skop Vrydag 14 Julie om 20:00 af met ’n uitvoering deur die Stellenbosch Slagwerk Ensemble, asook die Sankofa Marimba Ensemble van die Universiteit van die Witwatersrand.
Die daaropvolgende aand vind die finale ronde van die Stellenbosch Nasionale Ensemble Kompetisie plaas.
Van Sondag 16 Julie tot Woensdag 19 Julie sal internasionale musici, onder wie die violis Daniel Rowland, Julia Bushkova, Eugene Osadchy, Susan Dubois, Lecolion Washington, Michelle Vigneau en Abel Pereira, kragte saamspan met top Suid-Afrikaanse kunstenaars insluitend die Sontonga Kwartet, Nina Schumann, Corvin Matei, Suzanne Martens, Luis Magalhaes, Peter Martens, Matthew Reid en Brendan Kierman.
’n Hoogtepunt is die konsert van Woensdag 19 Julie, waartydens Vivaldi se Vier Seisoene, asook die Vier Seisoene van Buenos Aires deur Piazzolla te hoor sal wees.
Donderdag 20 Julie sal die Fannarãcken Blaaskwintet van die Noorweegse Akademie vir Musiek ’n uitvoering van werke deur Ligeti, Nielsen, Arnold en Barber aanbied.
Die Feessimfonie-orkes word gedirigeer deur die Nederlandse dirigent Arjan Tien. Op Vrydag 21 Julie om 20:00 sal die orkes te hoor wees in uitvoerings van Barder se bekende Adagio vir Strykers, Op. 11, Mozart se Sinfonia Concertante vir Viool en Altviool, KV 364 (met Julia Bushkova en Susan Dubois as soliste) en Sibelius se Simfonie No. 2 in D Majeur, Op. 43.
Met uitsondering van Mozart se Sinfonia Concertante, sal die orkes hierdie program tydens ’n uitvoering op Sondag 23 Julie om 16:30 herhaal.
In die plek van die Mozart werk, sal Luis Magalhaes die solis wees in ’n skitterende uitvoering van Liszt se Klavierkonsert No. 1 in E mol Majeur, S. 124.
Op Saterdag 22 Julie om 20:00 tree die Kaapse komediant Soli Philander as verteller op in ’n uitvoering van Saint-Saðns se Karnaval van die Diere saam met die Fees Konsertorkes, onder leiding van Xandi van Dijk.
Ook op die program is die immergewilde Simfonie No. 3 in C Mineur, Op. 78, bekend as die “Orrel” Simfonie, van Saint-Saëns. Die aand- en simfoniekonserte vind plaas in die Endlersaal, US Konservatorium.
Vanaf Saterdag 15 Julie tot Vrydag 21 Julie om 13:00 sal daar ook daaglikse etensuurkonserte in die Fismersaal, US Konservatorium deur studentegroepe van die Universiteit van die Vrystaat, Beau Soleil Musieksentrum, Mangaung Strykersprogram, asook van die beste kamermusiekgroepe aan vanjaar se fees aangebied word.
Middagkonserte deur top feesensembles sal daagliks van Dinsdag 18 Julie tot Vrydag 21 Julie om 17:00 in die Fismersaal, US Konservatorium plaasvind. Sien www.sun.ac.za of bel 808-2499.
More
News
|