Paarliet speel vinnig-vinnig vir Nederland rugby
2006-07-06
Leon Steenkamp
’n OUD-PAARLIET is besig om vir homself naam te maak as rugbyspeler in Nederland.
Die 27-jarige Renier Bester het vroeër vanjaar in twee kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker vir Nederland op senter uitgedraf.
En hoewel Nederland nie vir die toernooi in 2007 kon kwalifiseer nie, is Bester vasberade om ’n rol te speel in die ontwikkeling van rugby in dié land.
Bester het in 1997 aan Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer, waar hy in graad 11 en 12 vir die eerste span gespeel het.
Op skool het Renier ook aan krieket en atletiek deelgeneem en hoewel hy ’n kranige rugbyspeler was, het hy nie die Cravenweek-span gehaal nie.
Ná skool het hy vir ’n jaar ’n blaaskans gevat en vir die Paarl Rubyklub gespeel.
“Op daardie stadium was ek die jongste speler wat nog vir dié klub se eerste span gespeel het,” vertel Renier.
Intussen het hy ook uitgehelp by die familie se besigheid wat fokus op finansiële dienste.
Hierna het hy by die Suid-Afrikaanse Rugby Instituut (Sari) ’n omvattende kursus in rugbybestuur en -afrigting geloop.
In dié tyd het hy vir die Maties se Jongspan (o.20) begin speel. Die Springbok-sewesspeler en skoolvriend, Marius Schoeman, het egter vir Renier oorreed om by Ceres Rugbyklub aan te sluit.
Terwyl hy vir Ceres se eerste span in aksie was, is Renier ook in 1999 gekies om vir Boland se o.21-span te speel.
Hy het vir die volgende drie jaar by Ceres aangebly en die klub na die klubkampioenskap vergesel.
In dié tyd word hy in die Boland Meriete-span opgeneem wat op daardie stadium deur Hawies Fourie afgerig is.
Deur die loop van 2001 speel Bester vir die Boland Kavaliers en maak hy sy Curriebeker debuut teen Suidwestelike Distrikte op George.
In dié wedstryd het hy saam met nog ’n skoolvriend en oud-Boishaaier, Piet van Zyl, op senter gespeel.
Sy seisoen het egter tot ’n kortstondige einde gekom, toe hy sy regterskouer in die wedstryd teen die Luiperds ontwrig.
Hy moes ’n operasie ondergaan om die geskeurde ligamente in sy skouer te heg en is nie weer ’n Boland-kontrak aangebied nie.
Die begin van die Europese rugbyseisoen in Augustus het perfek ingeskakel met die einde van Renier se hersteltydperk en hy het besluit om sy geluk in Nederland te gaan vind.
’n Toeriste-visum wat geldig is vir drie maande is aan hom toegestaan en hy het vir De Dukes Rugbyklub in Den Bosch, in die suide van Nederland, begin speel.
Die verblyf-regulasies het egter Renier se sake telkens deurmekaargegooi.
Hy het in seisoen-tyd vir sy nuwe klub, ’t Gooi in Naarden Bussum, net buite Amsterdam, gespeel en met sy terugkeer, om fiks te bly, vir die Durbanville en Hamiltons rugbyklub uitgedraf.
Die heen en weer reisery was hopeloos onprakties en Renier het hard kop gekrap oor hoe hy vir ’n langer tyd in Nederland kon aanbly.
Dit is toe dat hy met die idee van wyn-uitvoer vorendag kom.
“Ons bemark sekere kelders van Suid-Afrika se wyne in Europa, en het ’n verspreidingspunt wat in Holland gebaseer is,” verduidelik Renier.
“Immigrasie-prokureurs is tans besig om namens my vir ’n vyfjaar-werkspermit aansoek te doen en dit behoort binne die volgende twee weke toegestaan te word,” sê Renier wat reeds gevestig is in Amsterdam.
Die klub van ’t Gooi het vanjaar in die nasionale klubtoernooi in die Ere-Divisie gespeel (die hoogste liga in klubrugby) en in die eindstryd teen Castrim 14-11 verloor.
Dit is die eerte keer sedert die ontstaan van die kompetisie dat ’t Gooi na die eindstryd deurdring.
Renier het in April gehoor van sy insluiting in die nasionale span.
“As jy vir drie seisoene ’n geregistreerde lid is van ’n rugbyklub in Nederland, kwalifiseer jy vir die nasionale span,” verduidelik Renier.
Sy klubafrigter, die Nieu-Seelander, James MacHardy, is ook die hulp-afrigter van die Nederlandse span.
Sy kennis van Renier se vernuf het die jong Suid-Afrikaner ’n vanselfsprekende keuse gemaak.
In drie opwarmingswedstryde het Nederland teen die Doncaster Klub in Engeland en die Treviso Rugbyklub in Italië 38-7 en 27-17 verloor.
Hulle het egter in Nederland vir die Walliese Dowespan 83-17 ore aangesit.
In die eerste kwalifiserende wedstryd vir die 2007 Wêreldbeker Rugbytoernooi het Nederland vir Pole 22-20 geklop.
Renier het in dié toets ook twee keer gaan druk.
Die Nederlanders se vreugde was egter van korte duur en hulle is in Madrid met 24-13 deur Spanje geklop.
Die nederlaag het die Oranje-truie se hoop op deelname in volgende jaar se Wêreldbeker in duie laat stort.
Nogtans is daar ’n nuwe dryfbeweging om rugby in dié land, wat steeds as ’n amateur-sport bedryf word, te verbeter.
“Die Nederlandse Rugbybond is nou besig met ’n opbou-proses van rugby. Die regering ondersteun nie rugby nie, sokker is alles. Rugby word skaars op die televisie uitgesaai.
“Maar hulle kyk daarna om private borge te betrek wat die sport na ’n hoër vlak kan neem,” vertel Renier.
Die Nederlandse span beoog om aan die einde van die jaar na Amerika te toer om daar teen van hul ontwikkelingspanne te speel.
Renier is tans terug in Suid-Afrika terwyl hy wag vir sy werkspermit om goedgekeur te word. Hy het die tyd gebruik om onder andere die o.19E, o.19F en o.19G spanne van sy alma mater af te rig.
More
News
|