Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Berg vanjaar nóg strawwer

Berg vanjaar nóg strawwer
 
2006-07-06


DIE Bergrivier Kanomarathon gaan vanjaar nog meer van ’n uithou-vaart as vorige jare wees.

Die wedvaart keer terug na sy oorspronklike formaat wat die skof op die tweede dag 18km langer sal maak.

Dié deel van die roete beslaan die platwater voor die Misverstand Dam.

Een van die roeiers wat uitsien na die ’nuwe’ roete is Pieter-Willem Basson van die Paarl.

“Dit is nou ’n ware langafstand-toets. Jy sal nie met min oefening kan wegkom nie. Ek dink die verlenging van die roete is ’n goeie ding,” het Basson vandeesweek gesê.

Dit sal dan ook die eerste keer wees dat Basson, wat reeds sewe Berge agter sy naam het, die ganse oorspronklike roete van die Paarl tot in Velddrif aflê.

Die nuut ingeslote stilwater-gedeelte sal sy eie uitdagings aan die roeiers stel.

“As jy die alleenvoorloper ná die eerste dag is, gaan dit moeilik wees. Roeiers wat op die dam saamwerk, sal maklik ’n alleen-roeier kan inhaal,” verduidelik Basson.

Volgens Basson is dié gedeelte net ’n uur se roei, “maar dit gaan moeilik wees.”

Hy voeg by dat hy tydens sy voorbereiding sowat vyf uur per naweek probeer roei, “net om gewoond te raak aan die lang skofte”.

Wat betref die hoogte van die rivier, sê Basson, dit sal nog sowat een meter moet styg, om die deel van die roete tussen Wellington en Hermon begaanbaar te maak.

“Met die skoonmaakprojekte is daar baie bome wat nou in die rivier lê. As die water nie minstens met ’n meter styg nie, gaan daar taamlik lang gedeeltes wees waar die ouens hul kano’s sal moet dra.”

Dié roeier van die Paarl Kanoklub wat vanjaar een van die aanspraakmakers op die titel is, se beste posisie tydens ’n Berg is sewende.

Hy is egter oorgehaal om vanjaar hierop te verbeter.

“Die top vyf roeiers kry almal goue medaljes en dit is waarvoor ek mik, om onder die voorste vyf te eindig.”

Daarby is hy positief dat die WP-roeiers mekaar sal help in die aanslag op die titel.

Basson sal hoop om hulp te kry en te verleen aan Gert van Deventer, nog een van die gunstelinge om die 2006 Berg te wen.

Ander gerekende roeiers is die verdedigende kampioen, Hank McGregor, en Sven Bruss (albei van Natal) asook Paul Marais van die WP.

Die ander twee groot kanonne in dié wedvaart, Graeme Solomons en Jacques Theron, neem nie vanjaar deel nie.

Solomons berei tans vir die Wêreld Naelroei-kampioenskap voor, terwyl Theron nie voldoende voorberei het nie.

Die 2006 Isuzu Bergrivier Kanomarathon spring Woensdagoggend om 09:30 voor die Paarl Kanoklub in Markstraat weg.

’n Tydtoets om die wegspringplekke van die beste roeiers te bepaal, sal Dinsdagmiddag gehou word.

’n Totaal van 165 roeiers het tot dusver vir die uitmergelende wedvaart van 240km ingeskryf.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za