Tiere grom hard hard vir Paarl
2005-04-21
IN ’n klipharde wedstryd op Daljosafat het Young Peoples sy derby teen Paarl met 19-13 gewen. Paarl was rustyd 10-7 voor.
Paarl het, soos daar verwag is, die wedstryd met sy voorspelers probeer domineer en veral in die eerste 30 minute goed daarin geslaag.
Die ligter Peoples-pak het veral in die skrums en dryfspel erg gesukkel terwyl hul gevaarlike agterlyn maar min aanvalsgeleenthede gehad het.
Paarl het in die 12de minuut ’n tipiese voorspelerdrie behaal en 5-0 die voortou geneem.
In die 28ste minuut breek die Tiere se losskakel, Delwaine Cornelissen, skitterend deur die hele Paarl-span en druk onder die pale. Heelagter Thysie Pietersen verdoel en peoples loop 7-5 voor.
Peoples verbrou egter drie maklike strafskoppe terwyl die agterspelers twee keer balle aanslaan met die doellyn wat wink.
Ná rustyd het Peoples vir ’n halfuur rond getjommel en glad nie soos ’n wenspan gelyk nie.
Die Tiere het slordige spel opgedis en hulself met 50-50 aangeë onder druk geplaas. Die span het ook baie duikslae gemis en Paarl toegelaat om sterk terug te kom.
Ná nog ’n paar strafskoppe het sake skielik vir Peoples begin donker lyk.
Die tuisspan het egter vasgebyt, en twee pragdrieë deur senter Ben Martin en flank Bjorgen Julies, asook ’n doelskop deur Cornelissen het die besoekers gesink.
Van Julies gepraat, dié jong speler is ’n yster en gaan nog diep spore in die Peoples-trui trap. Barry en Brian Williams asook Kurt Martin het ook puik spel gelewer.
Paarl kan net hulself blameer vir die nederlaag, met Peoples wat in die laaste kwartier die wedstryd in hul guns geswaai het.
’n Gebrek om as ’n eenheid saam te funksioneer en die onvermoë om vir ’n volle 80 minute te speel, was Paarl se grootste kopsere.
Paarl se drieë is deur Huntie Maass en Morné Kershoff gedruk. Corné van der Merwe was in die kol met ’n strafskop.
Marco Martin was Paarl se speler van die wedstryd.
Paarl II en III het 3-0 en 29-12 gewen.
More
News
|