Man red twee, een sterf
2006-07-13
“EK het vir Maria uit die vlamme probeer red, maar toe my hare begin skroei van die hitte, het ek geweet dit is tevergeefs.”
So sê Piet van Rooyen, nadat sy buurvrou, Maria Botha, Saterdagaand doodgebrand het.
Die voorval het in die Egoli-woongebied, naby Carterville op Wellington, plaasgevind toe ’n gesin van drie reeds geslaap het.
Piet het gesê dat hy uit die bed geroep is deur ’n ander buurvrou wat vlamme vanuit die Bothas se huis sien kom het.
“Ek het dadelik na hulle huis gehardloop en die deur oopgeruk. Op die vloer het Maria se man, Jan, reeds bewusteloos gelê, en op die rusbank hul sesjarige dogtertjie, Gayla.
Ek het vir Jan uit die huis gehelp en toe vir Gayla teruggekeer. Terwyl sy in my arms was het sy gesê dat haar ma in die slaapkamer lê en slaap,” het ’n verslae Piet gesê.
“Ek het toe weer die huis probeer binnegaan, maar die vlamme was te erg.”
Maria het vermoedelik in haar bed dood gebrand.
Die Botha egpaar het nog ’n seun, Justin (10), wat tydens die voorval by sy ouma in Ceres gekuier het.
Die rede vir die brand is steeds onbekend.
* A man managed to save two members of a family from a burning house, but a women died in her bed.
More
News
|