Poskantoor het posbuspyne
2006-07-13
David Joshua
PAARLIETE wat posbusse by die nuwe Paarl Poskantoor het, is hewig ontsteld oor die onveilige ligging daarvan. Hulle meen dit is veral na ure onveilig.
“Vandat die posbusse verskuif het hiernatoe, voel ek onveilig om pos te kom afhaal.”
So praat posbushuurder Maryna Hiscock, bestuurder by ’n bekende klerewinkel nie ver van die nuwe poskantoor af nie.
“Hoewel die poskantoor nou binne stapafstand is, verkies ek om die pos gedurende kantoorure te kom afhaal.
“As die winkels gesluit het, en almal is reeds weg, sal ek dit nooit waag om pos te kom afhaal nie. Ek voel te onveilig.”
Dis nou byna ’n maand sedert die poskantoor sy nuwe deure in Lady Greystraat geopen het en heelwat tandekry-probleme word ondervind. Om by haar posbus uit te kom, moet Hiscock deur die verlate steeg wes van die poskantoor (voorheen Wagon Wheels restaurant) stap wat Lady Greystraat en Nuwestraat met mekaar verbind.
Dan draai ’n mens in by die sydeur na die posbusse-afdeling, stap gang-af, draai links en stap dan verder tot by ’n inham om haar posbus te bereik.
Dís wat pla, want staan jy met jou rug gangwaarts in een van hierdie inhamme, is jy heeltemal onbewus van wie dalk in die gang afgestap kom.
’n Assistent by ’n apteek, Ingrid Albertus, beaam die gevare. “Ek is nog jonk en kan myself dalk nog verdedig teen ’n moontlike aanvaller, maar wat van weerlose bejaardes?” het sy gevra.
“Hulle kan gerus ’n paar spieëls in die gange aanbring, sodat ’n mens om die draai kan sien wie veral in die inhamme staan.
“Jy wil nie onaangenaam verras word deur een of ander misdadige karakter nie”.
Volgens nog ’n kliënt, Jannie Mars, is die nuwe poskantoor netjies en die diens goed.
“Dis egter te verstane dat vroue skrikkerig voel hier by die sykant waar die posbusse is. veral as ’n mens so lees van verkragtings en goed. Misdadigers sien vroue as ‘soft targets’.”
Nog twee inwoners, Vivian de Villiers en Hannie de Villiers, het voorheen hul pos op Van der Poelsplein gaan haal.
“Ons is baie tevrede met die diens wat die poskantoor lewer, maar die toestand hier by die posbusse skep geleentheid vir aanrandings. Hulle moet kameras aanbring wat die weggesteekte inhamme monitor.”
Dit blyk dat alle posbusse in die Paarlse Hoofstraat nou op die perseel gekonsolideer is, behalwe dié op die verste suidelike en noordelike punte van die Paarl.
Die posbus-afdeling is 24 uur oop en huurders kan te enige tyd pos kom afhaal. Daar word gevrees dat huisloses hulle snags daar kan tuismaak.
Die Poskantoor kan egter met ’n taamlike stywe rekening sit om aan die byna 2000 posbushuurders elkeen ’n gratis sleutel te voorsien, indien ’n veiligheidsdeur benut word om verhoogde sekuriteit kan verseker.
In reaksie op die klagtes het ’n woordvoerder van die poskantoor gesê elke posbushuurder by Paarl poskantoor sal ’n nota in sy of haar posbus kry waarin daar verneem word of die huurder ’n sleutel vir die sekuriteitshek by die ingang na die posbuslokaal nodig het. Hierdie hek sal dan ná kantoorure gesluit bly en slegs posbushuurders sal toegang tot die lokaal hê.
Tussen die posbuslokale en die poskantoor self sal vensters ook nou ingebou word sodat die pobuslokale deurentyd vanuit die poskantoor self sigbaar is.
Borde met aanwysings vir die toonbanke en posbusnommers word tans vervaardig en sal binnekort by die poskantoor aangebring word. “Ons waardeer alle terugvoer van kliënte - dit is een van die beste metodes om ons diens te verbeter.
“Lesers kan gerus die kliëntediensnomme 0680-111-502 skakel met klagtes, navrae, of voorstelle.”
* Paarlites have objected to the new post boxes at Paarl post office, which are housed in a room like a labyrinth without security.
More
News
|