Albions manne proe weer sukses
2005-04-21
DIE eerste span van Albions Rugbyklub het Saterdag hul segetog voortgesit toe hulle op Daljosafat Stadion vir Silvertree 28-3 geklop het.
Oudergewoonte was dit weer Albions se lostrio wat die besoekers hoofbrekens gegee het.
Daarby het die agterlyn ook te veel skietgoed gehad en Silvertree kon eenvoudig nie al die gate toestop nie.
Die tuisspan druk reeds drie drieë in die eerste helfte aan die hand van Roger Uren (senter), Jenovan Cornelissen (flank) asook Alvin Hugo (vleuel). Hugo het onder die pale gedruk ná ’n lopie van sowat 50m.
Enrico Jordaan (losskakel) se skopskoen het die rustydtelling op 21-3 te staan gebring.
In die tweede helfte het Albions met sy voorspelers gespeel en fase vir fase opgestel.
Die besoekers se verdediging het egter goed gehou en Albions voeg slegs sewe punte by hul totaal, danksy ’n drie deur Uren en doelskop deur Jordaan.
Die tweede (53-0) en derde spanne (22-0) het ewe goeie seges behaal.
Saterdag speel Albions weg teen Strand. Die bus vertrek om 11:00.
More
News
|