Einde van vakansie in sig
2006-07-13
Sandra Maritz
VIDEO’S, fliek, kuier en inkopies - dit is van die dinge waarmee plaaslike skoliere wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, hulle tydens die wintervakansie besig hou.
Dit lyk of die meeste dankbaar is dat hulle binnekort sal kan skoolgaan, pleks van dinge soek om hulle mee besig te hou - om nie te praat van hul ouers nie.
“Ek speel saam met my vriende en kyk video’s,” vertel Eugene Alexander (9) skaam-skaam. Ná ‘n paar oomblikke erken hy opgewonde dis nie al nie: “Ek speel gholf ook!”
Carla Mentoor (12) spandeer ook die meeste van haar tyd saam met haar vriende.
“Ons kuier by mekaar en slaap ook saans by mekaar oor,” het sy bygevoeg.
Die sproetgesig Génell Esterhuizen (10) speel met haar maatjies, “maar ons gaan ook later nog weg met vakansie.”
Sommiges wie se ouers werk, word deur dagmoeders versorg: “Ek is by nasorg, maar kan nie wag om by my niggies en nefies te kuier nie,” sê Tanya Malone (9).
Cameron Malone (11) speel graag met sy vriende: “Ons vang allerhande kattekwaad aan, hoewel ek my bes probeer om nie stout te wees nie,” sê hy ernstig.
In ‘n lekkergoedwinkel vertel Jocelyn Lyster, ‘n matrikulant, dat sy “eintlik nie veel doen” tydens die vakansie nie.
Elizabeth Malone (8), wat die kunsklasse by ‘n plaaslike winkel geniet het, hou van winkel toe gaan.
Haar sussie Jennifer (9) erken dat sy meestal net laat slaap om die tyd om te kry.
Besoeke van familie is ‘n ligpunt.
Emily Labuschagné (12) glimlag met ‘n mond vol roomys: “My ouma is hier. Verder hou ‘n mens jou maar besig met pelle en fliek,” voeg sy by.
Sheldon van Vicks (13) wil ook nog by sy familie gaan kuier. “Ek wil pret hê,” was sy eenvoudige oplossing vir die uitgerekte vakansie.
Hein-Lee Floris (16) het darem ‘n lekker fees bygewoon.
“Jy eet snoek and patat soos die slawe in die ou dae.”
Uriun de Kock (12) speel meestal by die huis met sy sussie, “maar ek het al gaan bergklim,” vertel hy terwyl dié vir mekaar wegkruip agter advertensieborde.
Oslund September (13) het nie laat slap lê nie, maar het rugby geoefen.
“Ek wil nog laat gaan slaap en nog baie oggende laat opstaan,” het hy hoopvol bygevoeg.
Dan is daar natuurlik dié wat ruiterlik erken hulle kan nie wegbly van die winkels af nie.
Joané Esterhuizen (14) en Carla Mentoor (12) loop ook graag rond in die winkels, maar Joané dink die Paarl Mall moet nog uitbrei.
“Hier moet meer speletjies wees, dan sal dit nog lekkerder wees. Ons kuier maar by vriende en fliek soms,” het sy vertel.
Elzaan Kriel (12) trek los met ‘n rits aktiwiteite wat sy al gedoen het dié vakansie.
“Ek het al gaan ysskaats, ten-pin-bowling gespeel, gaan fliek en nou loop ek en my maatjie rond by die Mall.”
Dit is duidelik dat kinders die kans goed benut om hul beursies vinnig leeg te maak in dié winterdae.
More
News
|