Kragteloos met rugbykaartjie-aankope
2006-07-13
OP 7 Junie word ek deur my bestuurder gevra om rugbykaartjies by Shoprite (Paarl) te koop.
Reeds deurmekaar was die een tou wat na die Lotto geloop het, en die ander na krag ens.
Toe dit my beurt was, was die een rekenaar “van lyn af” en ek moes oorskuif na die volgende lyn (tot agter twee ander persone) om weer gehelp te kon word.
Uiteindelik was ek voor en kon ek my bestelling plaas vir die vier kaartjies.
Toe raak die papier op. Ná ’n halfuur kry iemand iets in die drukker (ook nie voor die assistente op haar knieë op die vloer moes sit en sukkel nie).
Dis was pateties. Nie ’n enkele opsiener was in sig nie, of altemit, almal het wye draaie geloop.
Die assistente wat help by die “Money Market” was al bitter bekommerd en wou weet of ek maar nie by Checkers die kaartjies wou gaan koop nie.
Selfs met vele oproepe en dreigemente dat ek die bestuurder wou sien, het geen opsiener opgedaag nie. My bene was al lam van al die wag.
’n Opsiener het uiteindelik opdrag gegee dat hulle seker hulle “IT” afdeling moes skakel en die probleem met hulle moes opneem.
Wat my ontstel het, die ene “Gerty” was naby, maar het haar eintlik min gesteur aan wat aan die gebeur was, en het met ’n kennis gestaan en gesels.
Terwyl die assistente op die foon besig was, moes sy weer die rekenaar afskakel en weer “restart”, en glo my, die stelsel was baie stadig.
Terwyl sy so sukkel, skop die stelsel sommer ’n bedrag van R2000 uit wat ek verskuldig was nadat ek vier kaartjies van R250 gekoop het.
Toe was ek hoogs die joos in, want ek staan al ’n driekwartier en wag.
Sy was desperaat om my te help, en het gevra dat ek saam met haar Checkers toe moet stap, want sy is baie jammer dat ek moes staan en tyd mors.
By Checkers was dit skaars ’n minuut toe staan ek met die kaartjies in my hande.
Bravo Checkers - jammer Shoprite.
Die assistent by die Money Market wil ek bedank, want ek weet wat jy moes deurmaak. Gestel nou net ek was ’n baie moeilike kliënt - dan was jy seker in trane.
Anoniem-BEJ
Die skakelbeampte van Shoprite, Sarita van Wyk, reageer: Die Shoprite kettingwinkelgroep bied graag sy verskoning aan vir die ongerief wat Anoniem-BEJ ondervind het met die aankoop van rugbykaartjies by die Money Market-toonbank.
Die supermarkgroep bied 'n wye reeks van finansiële dienste aan met die uitsluitlike doel om waarde en gerief toe te voeg tot klante se inkopie-ervaring in Shoprite en Checkers winkels. Dit is dus jammer dat die diens nie voldoen het aan die klant se verwagtinge nie.
Die aangeleentheid is met die betrokke personeellede opgeneem ten einde 'n herhaling van die voorval te vermy.
Die probleem met die drukker is ook intussen reggestel en daar sal voortaan meer aandag geskenk word aan die korrekte prosedure om onverwagte krisisse in die Money Market-afdeling te hanteer.
Anoniem-BEJ se ervaring by die Checkers-toonbank is waarna alle takke in die supermarkgroep streef, en dit is dus verblydend dat die klant ook 'n positiewe ervaring gehad het.
More
News
|