Paarlse krieketspeler op pad boontoe
2005-04-21
DIE goeie vertoning dié seisoen van die krieketspeler Brendon Adams is beloon met ’n uitnodiging om by die Nasionale Krieket Akademie aan te sluit.
Adams, wat vir Young Peoples Krieketklub speel, sal van Mei tot Augustus deel vorm van die Nasionale Akademie in Pretoria se spelerskorps.
Adams wat by New Orleans Primêr, Paarl Primêre Seunskool en Hoër Jongenskool Paarl skoolgegaan het, presteer al van ’n jong ouderdom op die krieketveld.
Dié 21-jarige speel al vir die afgelope ses jaar vir Young Peoples en het reeds op 15-jarige ouderdom vir die klub se eerste span gespeel. Hoewel hy nooit op skool in die Boland-spanne opgeneem is nie, het hy wel een jaar vir Sentraal-Boland se o.15-span gespeel.
Ná sy matriekeksamen is Brendon in die o.19 Boland-span opgeneem nadat sy klub hom vir die proewe genomineer het.
Hy het die daaropvolgende jaar weer vir Boland o.19 gespeel en was ook deel van die groep spelers wat by die Wes-Kaapse Krieketakademie in die Paarl afrigting ontvang het.
In dieselfde jaar het hy ook vir die Boland Kavaliers, die Boland C-span, uitgedraf.
Verlede seisoen het Adams sy merk gemaak in die Boland B-span. Dié einste seisoen van 2003/2004 was ’n grote vir Adams deurdat hy 900 lopies moker en 30 paaltjies plattrek.
Vanjaar het hy sy debuut vir die Boland Amateurspan gemaak. In dié vierdagwedstryd teen OP einde verlede jaar het hy tellings van 25 en 41 aangeteken en drie paaltjies laat kantel.
Sedertdien was hy ’n gereelde insluiting in die Boland Amateurspan. “Dit gaan my baie help om my spel te verbeter. Daar gaan afrigters van ander provinsies wees en ek glo dit kan deure vir my oopmaak,” het Adams vandeesweek gesê.
Maar wat verkies dié hotklou, die kolf of die bal?
“Toe ek vir die Boland gespeel het, was my job om te boul en as ek lopies gekry het, was dit ’n bonus vir die span,” vertel die ortodokse draaibalbouler.
Die Boland het hom gevolglik op nommer ses of sewe in die kolforde ingespan, terwyl hy gewoonlik met die eerste of tweede boulverandering sy truuks op die kolwers kon uittoets.
Vir sy klub Young Peoples was Brendon egter een van die groot kanonne met die kolf en het hy die kolfwerk geopen. Hy spog met ’n hoogste telling van 118 wat hy verlede seisoen op Daljosafat teen Van der Stel aangeteken het.
Brendon besef egter dat die prestasies wat hy tot dusver behaal het, nie alleen te danke is aan sy eie toedoen nie.
“My ouers, Beverley en Jeff, het ’n groot rol gespeel in my krieketloopbaan. Hulle ondersteun my baie en is tydens elke wedstryd wat ek speel, langs die veld,” vertel Adams, wat ook ’n suster, Shelley (15) het.
Shelley is ’n leerder aan La Rochelle en speel tennis en netbal. Hy is ook vol lof vir sy afrigters by Boland.
“Deon Smith en Salieg Nackerdien is die twee afrigters wat my krieket gemaak het wat dit vandag is. Veral ná skool toe ek nie watwonders presteer het nie, het hulle my goed ondersteun.
“Salieg veral het my baie raad gegee oor hoe ek die game moet benader en myself moet instel voor ’n wedstryd,” vertel Adams, ’n tweedejaarstudent wat B.Com. Finansiële Bestuur deur Unisa studeer.
Op dié stadium volg hy nie ’n te streng oefenprogram nie. “Ek probeer nou fikser word vir die Akademie.” ’n Groep van 19 spelers word na die akademie genooi en die span toer gewoonlik oorsee.
Kyk ’n mens na die harde werk en toewyding wat Brendon in sy krieket belê, is dit egter net ’n kwessie van tyd voor hy sy merk in die wêreldkrieket-arena maak.
More
News
|