Albions se jong spelers beïndruk
2006-07-13
IN ’n wedstryd wat deurgaans teen ’n hoë tempo gespeel is, het Albions se eerste rugbyspan Saterdag vir Scottsdene 24-3 geklop.
Albions het baie van sy jonger talent kans gegee om te speel en dié spelers het nie die afrigters teleurgestel nie.
Agter die skrums het Evan Prins op skrumskakel hom goed van sy taak gekwyt het, terwyl Wayden van Rooyen op vleuel ook ’n paar gevaarlike lopies ingekry het.
Albions se lostrio het weer eens ’n barshou gespeel, met Hendrick Kunene wat hier met ’n drie beloon is.
Dominic Daniels was suksesvol met die doelskop.
In die lynstane het Johan Rooi (slot) en Alfredo Adams goeie balbesit verseker in die afwesigheid van Roderick Allies wat met ’n handbesering sukkel.
Die haker, Waylain September, kry ’n 30m lopie in waartydens hy die agterspelers van Scottsdene platvoet vang.
Sy drie word ook deur Daniels verdoel om die rustydtelling 14-0 te maak.
In die tweede helfte het die Albions-agterlyn nog meer kans gekry om te hardloop, met veral Ashley Manuel wat hier die oog gevang het. Yulin Claasen (flank) het Albions se derde drie gedruk, terwyl nog nuwelinge soos Christopher Kainda, Conrey Pieters en Eugene Bosman ook speelkans gekry het.
Kunene se uitblink-spel is beloon met ’n tweede drie en die speler-van-die-wedstryd toekenning.
Albions II het 5-0 verloor terwyl die derde span 10-0 gewen het. Saterdag speel Albions weg teen Strand United. Die bus vertrek om 11:00.
More
News
|