Atlete lyk goed voor Wêreld Junior Kampioenskap
2006-07-13
DRIE plaaslike atlete was deel van die SA-span wat onlangs aan die Suidelike State Juniorspele in Windhoek deelgeneem het.
Dayne Le Kay, Louw Smit en Keenan Watson het die helfte van die ses Bolanders in die span uitgemaak, terwyl nog ’n Paarliet, Raymond Julius, die span as afrigter vergesel het.
Die Suidelike State Juniorspele vorm deel van die nasionale junior span se voorbereiding vir die IAAF Wêreld Junior Atletiekkampioenskap wat vandeesmaand in Beijing, China, plaasvind.
Die ander Bolanders in die span is Robert Oosthuizen (Malmesbury), Wenda Theron (Worcester) en Marike Walters (Stellenbosch). Die ses Boland atlete het tussen hulle nege medaljes verower - drie goud, vier silwer en twee brons.
Theron wat drie medaljes ingepalm het, was sonder twyfel die uitblinker. Sy het goud verower in die 4x100m aflos, silwer in die 100m (12,13s) en brons in die 200m (24,68s) vir meisies 19 jaar.
Le Kay het ook goud verower as deel van die 4x100m aflosspan en ’n bronsmedalje ingepalm in die 100m vir seuns 19 jaar.
Watson het silwer verower in die verspring met sy afstand van 7,67m, terwyl Smit ook silwer verdien het met sy tyd van 13,93s in die 110mH.
Robert Oosthuizen se gooi van 77,36m was goed genoeg vir goud in die spiesgooi, terwyl Marika Walters silwer verower het in die 100mH (14,52) vir meisies 19 jaar.
Die atlete vertrek môre na Mauritius waar hulle aan die Suidelike State Junior Atletiekkampioenskap sal deelneem. Die byeenkoms sal die laaste slypkans wees vir atlete voor hul vertrek na China.
More
News
|