Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland oes weer medaljes

Boland oes weer medaljes
 
2005-04-21


DIE Boland atletiekspan wat die naweek aan die SA Atletiekkampioenskap vir seniors in Durban deelgeneem het, het ’n nuwe mylpaal behaal toe hulle die meeste medaljes nóg tydens ’n senior kampioenskappe gewen het.

Nege medaljes is verower, twee meer as wat dié provinsie verlede jaar tydens dieselfde byeenkoms kon inpalm.

Medaljes is ingeoes deur Okkert Brits (paalspring - goud), Frantz Kruger (diskusgooi - goud), Annelie van Wyk (paalspring - silwer), Johan Koen (tienkamp - silwer), Werner Smit (hamergooi - silwer), Fanie Jacobs (paalspring - silwer), Elmarco Matthews (driesprong - brons), Robert Oosthuizen (spiesgooi - brons), en die vroue 4x400m aflosspan (brons).

Wat die prestasie nog meer merkwaardig maak is dat ’n verdere 17 atlete die finale tydens die SA Kampioenskappe gehaal het. Dit beteken dat meer as 60% van die span teen die beste atlete in Suid-Afrika die finale gehaal het of ’n medalje gewen het.

Die atlete wat in die finale in aksie was, is Eveline Julies (800m), Nicole Marais (800m en 1500m), Adrian Williams (HS), Hans-Jurie Muller (1500m), Marné van den Burgh (PS), Lila Rorich (PS), Karin le Roux (HG), Anje Crocker (HG), Sors Joubert (tienkamp), Marliese Cornelisen (VS), Pieter van Breda (PS), Johan du Plessis (PS), Keenan Watson (VS), Ross Jordaan (GS), Nicole Nel (SG), en Janine Visser (400mH).

Die matrikulant van Robertson, Karin le Roux, en tans 'n lid van Maties het haar seisoen op ’n hoogtepunt afgesluit toe sy met haar finale poging in die hamergooi ’n nuwe Boland junior-rekord van 46,64m opgestel het.

Maar dit is veral die matriekleerder van Hoërskool Swartland, Robert Oosthuizen, wat tydens die kampioenskappe die toeskouers verbaas het.

Hy het skaars drie weke gelede weer begin deelneem nadat ’n besering hom verhoed het om die grootste gedeelte van die seisoen te oefen.

Oosthuizen, wat in 2003 as die tweedebeste spiesgooier in die wêreld gekeur is en ook silwer by Wêreld Jeugkampioenskappe gewen het, kon ook glad nie in April vanjaar aan die SA Junior Kampioenskappe deelneem nie.

En nou, skaars drie weke later wen hy as junior atleet nie net ’n bronsmedalje op die SA senior kampioenskappe, maar gooi ook ’n nuwe Boland junior-rekord met ’n pragtige afstand van 71,48m.
Richard Stander, Uitvoerende Hoof van Boland Atletiek, sê dat meer as 60% van die span bestaan het uit atlete wat jonger as 20 jaar oud is.

“Dit is ’n sterk aanduiding dat Boland Atletiek se ontwikkellingsplan besig is om dividende te lewer,” het Stander oor die Boland se goeie prestasies gesê.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za