Groen vingers gesoek om dorp te verfraai
2006-07-20
NEEM ‘n stukkie van ‘n munisipale ruimte of tuin aan, en sorg met die nodige arbeid en finansiële insette dat dit ‘n sieraad vir die dorp raak.
Dit is die uitdaging wat die Wellington Verfraaiingskomitee tans aan plaaslike besigheidslui en organisasies met groen vingers en ruim beursies rig met hul “Adopt-a-Park” inisiatief.
Volgens Wellington se Verfraaiingskomitee is hul hoofdoel om die dorp se voorkoms te verbeter en te help om so veel as moontlik bome aan te plant.
Dit raak egter toenemend moeilik vir die Drakenstein Munisipaliteit om al die openbare ruimtes, sypaadjies en middelmannetjies in sy gebied te ontwikkel en in stand te hou.
Die komitee het daarom met die “Adopt-a-Park” inisiatief sekere prominente terreine in Wellington geïdentifiseer met die doel om die plaaslike sakegemeenskap en organisasies te vra om daarby betrokke te raak.
Die fokuspunte soos by die Dierehospitaal en St Albans Primêr by die ingange van die dorp, die sirkel by die munisipale swembad en Huis Wouter Malan, die fontein by Blouvleiweg asook die terrein oorkant die fontein op die hoek van Blouvleiweg en Bainstraat, is onder die terreine wat geoogmerk word vir so ‘n samewerkingsooreenkoms.
Die terrein by die uitgang na Bainskloof regoor die Voortrekker spankamers, Ouma/Granny’s Museum, die driehoekbedding voor King Makelaars by die aansluiting van Oos-, Pentz- en Kollegestrate, asook die sypaadjie op die hoek van Pentz-, Kollege en Oosstrate, is ook op die lys.
Die komitee glo die projek hou vir alle betrokkenes “waardevolle dividende” in, aangesien die dorp nie net baat by ‘n netjies versorgde terrein nie, maar ook omdat besighede en organisasies se betrokkenheid by die projek publisiteit sal kry danksy kennisgewings wat op die prominente terreine aangebring gaan word.
Besighede of organisasies wat belang stel om ‘n openbare ruimte te versorg, kan vir Eugenie Wiggins, voorsitter van die Wellington Verfraaiingskomitee, kontak by 083-308-8492 of 873-1152, of sekretaris Charl Tomlinson by 082-592-6807 of 873-2759. ‘n Epos kan ook gestuur word na herbizkit@yahoo.co.uk of charltom@mweb.co.za teen 31 Oktober.
* Wellington businesses have been invited to sponsor the greening of open spaces.
More
News
|